SA jeugkoor ‘in ekstase’ oor internasionale pryse

Die Oos-Randse Jeugkoor tree in Pole op (Foto: Marek Krupecki/Facebook)

Enkele dae nadat die Oos-Randse Jeugkoor van Europa af teruggekeer het, is hulle nog besig om die werklikheid van hul oorsese prestasie te verwerk.

Dié koor, onder leiding van Gert Pottas, het pas in Pole by die Per Musicam Ad Astra- Internasionale Koorfees met vier pryse en in Oostenryk by die Salzburg- Internasionale Koorfees en -kompetisie met vyf pryse weggestap.

Pottas sê hulle is steeds in ekstase oor hul prestasie en dat hulle nie verwag het dat hulle só goed sou vaar nie.

“Ons gaan soontoe om deel te neem, sonder enige verwagting om met pryse weg te stap. Maar daardie kinders sing hulle harte uit, en ek kan net sê dat hulle gekry het wat hulle verdien,” sê hy met trots.

Gert Pottas (Foto: Marek Krupecki/Facebook)

Die Oos-Randse Jeugkoor bestaan uit 75 lede tussen 13 en 24 jaar oud. Altesaam 48 van dié lede het vanjaar na Europa getoer.

Hulle het in Torun, Pole teen 17 ander kore meegeding waar hulle in vyf kategorieë met die louere weggestap het. Die koor het gou gewen in die kategorieë vir jeugkore, tradisionele musiek en gospel. Mbale Mkhize, ʼn lid van die koor, is ook as beste solis van die kompetisie aangewys, en die koor het ook met die prys vir die algehele wenner van die kompetisie weggestap.

In Salzburg in Oostenryk het die koor teen 20 kore van reg oor die wêreld deelgeneem en nóg toekennings ontvang: Hulle het ʼn goue diploma in tradisionele musiek en vir gemengde jeugkore ontvang, hulle was die kategoriewenners vir jeugkore, en hulle het ook ʼn spesiale prys vir die beste interpretasie van “Prayer for the Children” ontvang.

Die Oos-Randse Jeugkoor tree in Pole op (Foto: Marek Krupecki/Facebook)

Pottas sê dié prestasies is veral spesiaal omdat die lede van die koor glad nie formele sangopleiding het nie. “Die kinders is doodgewone kinders wat uit skole in en om die Oos-Rand kom. Van hulle het nog nooit eens enige musiekteorie in hul lewens teëgekom nie. Die enigste kennis wat hulle van musiek het, is wat hulle by die koor leer.”

Hy vertel dit was ʼn oorweldigende ervaring om te wen teen kore van sulke goeie gehalte. “Hulle sing vir daai goud en vir daai wen, maar wanneer ons die gehalte van die ander kore hoor, weet ons die kompetisie is taai. Ons is almal baie trots dat ons al die pryse kon wen.”

Hy voeg by dit is veral lekker om Suid-Afrika op so ʼn manier te verteenwoordig en die land se naam hoog te hou.

Vir meer inligting oor die koor en waar om hulle optredes te kyk, besoek hul Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Liza ·

Geluk julle pragtige mensies, en geluk ook aan Gert….Dit wil nou gedoen word, so so trots op julle…….
Uitstekende talent……..

Griet ·

Pragtige prestasie! Baie geluk aan julle en julle koorafrigter. Julle harde werk het wonderlike vrugte gelewer!

Mamma ·

Wat vir ‘n vraag is dit? Moet daar altyd iemand wees wat soek na ‘n rede om die vreugde en mooi uit iets te haal. Wees eerder saam bly oor die positiewe gebeurtenis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.