Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) probeer agter die kap van die byl kom nadat twee Suid-Afrikaanse joernaliste in Tanzanië vrygelaat is ná hul inhegtenisneming, maar hul paspoorte nie terugbesorg is nie.
Angela Quintal, programsameroeper van die komitee vir die beskerming van joernaliste (CPJ) en ʼn oudredakteur van die weekblad Mail&Guardian, en haar kollega Muthoki Mumo, CPJ se verteenwoordiger in Afrika suid van die Sahara, het Donderdag omstreeks 03:00 teruggekeer na hul hotelkamer in Dar es Salaam, die land se grootste stad, nadat hulle vrygelaat is.
Die owerheid in die Oos-Afrika-land het die twee joernaliste Woensdag in hegtenis geneem, maar nie gesê hoekom nie. Dirco sê groot onsekerheid heers ten opsigte van hul inhegtenisneming.
“Ons weet nie hoekom hulle aangehou is nie; hulle weet nie hoekom hulle aangehou is nie,” het Ndivhuwo Mabaya, Dirco-woordvoerder, Donderdagoggend gesê. Die [Suid-Afrikaanse] hoë kommissaris het heelnag beswaar gemaak.”
Die soeklig val in die jongste tyd op Tanzanië weens die land se beweerde verslegtende menseregte met betrekking tot veral gay mense en politieke afvalliges.
Die Europese Unie (EU) het onlangs gesê hy heroorweeg sy bande met dié land. Die EU-ambassadeur in Tanzanië is die afgelope naweek ontbied vir beraadslaging oor die land se menseregterekord.
Was Julius nie ook in Tanzanie nie ? Mail &Guardian.
TIA, wat het hulle gedink?