SA jokkie beseer by Hongkong-perderesies

Die Suid-Afrikaanse jokkie Lyle Hewitson. (Foto: Facebook)

ʼn Suid-Afrikaner is een van drie jokkies wat Sondag ernstig beseer is tydens ʼn voorval in die groep een Hong Kong Sprint, een van die hoogtepunte by die beroemde Sha Tin-perderesiesbaan.

Die voorval het gebeur nadat die Suid-Afrikaner Lyle Hewitson se Amazing Star gestruikel het, net toe die groep die laaste pylvak van die 1 200 m-resies binnegegaan het.

Lucky Patch en jokkie Zac Purton, Naboo Attack en jokkie Karis Teetan, asook Pixie Knight met jokkie Yuichi Fukunaga is in die gemaal vasgevang en in ontstellende tonele rondgeslinger.

Die Hongkongse jokkieklub het bevestig dat Purton, Hewitson en Fukunaga almal in ʼn bestendige toestand is nadat hulle na die nabygeleë Prince of Wales-hospitaal geneem is.

Amazing Star en Naboo Attack moes egter weens die omvang van hul beserings van kant gemaak word.

Teetan het ongedeerd weggestap en kon die res van sy ritte voltooi.

Die voorval het ʼn demper geplaas op Hongkong se grootste resies, die Longines International Races-byeenkoms wat op die tweede Sondag van elke Desember gehou word.

Die jokkie Gavin Lerena het intussen in ʼn plasing op Twitter geskryf Hewitson se heup benodig minstens nie ʼn operasie nie. Lerena het mense vroeër ook gevra om vir Hewitson te bid.

Die 24-jarige Hewitson is in 2020-’21 vir die derde keer as Suid-Afrikaanse kampioenjokkie aangewys en het reeds 263 oorwinnings agter die blad.

Sportingpost berig dokters is tevrede met die uitslae van skanderings wat op Hewitson gedoen is en maak gereed om hom na ʼn algemene saal te verskuif waarna hy na verwagting na die Hong Kong Jockey Club-hospitaal oorgeplaas sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anonymouse

Ek wens hulle wil die wrede sport verban.

Tiptol

Arme diere!

Elinette

Eina!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! Daardie arme perde!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Frank

Wou sê elke sport het sy beserings, maar sjoe!!!!!!!! Dis erg!