SA juig saam oor Moti-broers se terugkoms

Die vier Moti-broers. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrikaners het vroeg Donderdagoggend gejubel van blydskap nadat die nuus bekend gemaak is dat die vier Moti-broers wat drie weke gelede ontvoer is, die vorige aand veilig met hul ouers herenig is.

Zia (15), Alaan (13), Zayyad (11) en Zian (6) se ouers, Naazim en Shakira Moti, het glo Woensdagaand ʼn oproep ontvang dat hulle die seuns kan gaan haal. ʼn Dokter het die seuns op die toneel ondersoek en bevestig dat hulle in ʼn goeie toestand is voordat die gesin veilig huis toe is.

Die hele land het weke lank saam gebid vir die Moti-broers se veilige terugkoms nadat hulle in Oktober op pad skool toe gekaap en ontvoer is.

Duisende Suid-Afrikaners het hulle intussen tot sosiale media gewend om die goeie nuus op elke platform en groep te deel. Die hutsmerk #MotiBrothers is ook gewild op Twitter met byna 10 000 twiets oor die broers se terugkoms.

“Dankie hemelse Vader dat U die seuns beskerm en veilig huis toe gebring het. Wat ʼn vreugdevolle dag,” skryf een sosialemediagebruiker.

“Prys die Here! Ons is so dankbaar vir hierdie goeie nuus,” sê ʼn ander.

Honderde van dié kommentare kan op elke platform denkbaar bespeur word.

Talle bekendes, van musikante tot private speurders, het ook met ywer hierdie nuus gedeel.

Suid-Afrika se bekende privaatspeurder en sekuriteitspesialis, Mike Bolhuis, het Donderdag gesê dat sy hele span ontroer is deur die wonderlike nuus oor die broers.

“Die hele Suid-Afrika deel in die vreugde wat die seuns se ouers nou voel,” sê hy.

Die menseregteaktivis, Catherine Constantinides, en Afrikaanse liedjieskrywers soos Dewald Gouws is ook in die wolke oor die nuus.

Die broers se skool, Curro Heuwelkruin in Polokwane, het intussen sy verligting oor die broers se veiligheid uitgespreek.

“Curro is saam met die hele land verlig dat die Moti-broers veilig tuis is. Ons sal voortgaan om alles in ons vermoë te doen om die gesin, asook die res van die skool, in hierdie tyd te ondersteun.”

Curro het die landsburgers ook bedank vir hulle deel daarin om die Moti-gesin in gebede toe te vou.

“Ons is opreg dankbaar vir ieder en elk se ondersteuning en gebede die afgelope drie weke.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Blikkies ·

Voorwaar goeie nuus en bly vir die ouers. Ek is nou nie Baas Speurder Faber nie, maar ek sal die verdwyning van die massas dwelms in KZN en hierdie voorval goed deurkyk? met in ag neming van die geregs dienaars en familie van hierdie kinders.

Elmarie ·

Ons almal wag vir die antwoord. Maar of ons dit ooit gaan hoor, die weet ek nie

Pieter ·

Bly die kinders is veilig ou hoed en sy mense soek seker nog.

Dorkie ·

Ek móét net sê ons almal word gevra om te bid, ons soek elke dag met ons oë terwyl ons bestuur, ons lees die nuus … Ons belê tyd en meegevoel, dan stop dit alles net. Ek respekteer die privaat tyd wat hulle nodig het maar gaan ons ooit die hele storie hoor?

Marie ·

Ek gooi nou ‘n klip in die bos en sê dat dit opvallend is dat die grootste party blykbaar hulle finansies uitgesorteer het. Baie bly die kinders kon bevry word.

Sê maar net ·

Halleluja. Prys God. Aan Sy liefde is daar geen einde nie!! Dankie Here vir U genade!

Amanda ·

Dankbaar die kinders is ongedeerd gevind, maar ek stem saam met jou, ek ruik n rot ……

Elmarie ·

Ek het ook so gedink van die begin af. Alles was baie hush hush gewees

Perdeby ·

net die ouers sal weet en die Polisie, dit is hoekom ek geen artikel van vermiste persone meer deel nie, want dit is waar alles doodloop gewoontlik. Hulle dink nou eers aan ‘n storie wat hulle die publiek kan spin.

Martie ·

Miskien is ek te agterdogtig maar iets is nie lekker met die storie nie!

Brakanjan ·

Vir almal wat so knaend wil weet wat is die volle verhaal
“Ransom” is betaal en kinders vrygelaat. Einde van storie.

Arendsoë ·

Dankbaar teenoor God vir hulle veilig terugkeer. Desnieteenstaande, is dit vir my een van die vreemdste stories wat ek nog ooit gehoor het.

madels ·

Beste nuus ooit! Dankie dankie dankie Here dat hierdie pragtige seuns veilig vir hul ouers terug besorg is. So diep dankbaar

JJB ·

As daar ‘n losprys betaal is kan mens verwag dat ontvoerings sal toeneem. Nigerië se oliestreek is berug vir ontvoerings van veral buitelanders vir groot lospryse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.