SA kan self Covid-19-entstof vervaardig

Die afvaardiging tydens hul besoek aan die Biovac-instituut in Pinelands. (Foto: Twitter)

Die interministeriële komitee oor entstowwe meen dit is moontlik vir Suid-Afrika om plaaslik ’n entstof teen Covid-19 te vervaardig.

Lede van dié komitee het Donderdag saam met adj.pres. David Mabuza die Biovac-instituut in Pinelands, Kaapstad, besoek om die moontlikheid van ’n plaaslik vervaardigde entstof te ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig Biovac is ʼn biofarmaseutiese maatskappy wat in 2003 in ʼn vennootskap tussen die regering en private beleggers gestig is om plaaslik entstowwe te vervaardig. Biovac sal volgens die presidensie ʼn belangrike rol in die gehaltebeheer, berging en verspreiding van die Covid-19-entstof speel.

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, wetenskap en tegnologie, Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, asook die adjunkminister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, was deel van die afvaardiging wat die instituut se “wetenskaplike vermoëns en biotegnologiese infrastruktuur” gaan inspekteer het.

Die vervaardigingsaanleg in Kaapstad doen produkontwikkeling, die formulering en vul van entstowwe, verpakking en etikettering, asook koueketting- en verspreidingsprosesse.

Die Biovac-instituut in Pinelands. (Foto: Twitter)

“’n Deel van die implementering van ʼn suksesvolle entstofplan beteken dat ons die vermoë moet ondersoek om entstowwe plaaslik in ooreenstemming met die land se nywerheidsbeleid te vervaardig,” het Mabuza tydens die besoek aan Biovac gesê.

Die aanleg het in November verlede jaar met die plaaslike vervaardiging van Hexaxim begin. Dié entstof is die wêreld se eerste volledig vloeibare heksavalente (6-in-1) entstof, wat beskerming teen ses kindersiektes, naamlik difterie, tetanus, kinkhoes, hepatitis B, haemophilus influenza tipe B en poliomiëlitis bied.

Die regering sê plaaslike vervaardiging van entstowwe is van kritieke belang.

Nzimande het tydens die besoek aangekondig dat Biovac uitgesonder is om ʼn vennootskapsooreenkoms met ImmunityBio, ʼn Amerikaanse immunoterapie-onderneming, wat besit word deur Patrick Soon-Shiong, gebore in Suid-Afrika, te onderteken.

“Die maatskappy doen tans kliniese toetse in Khayelitsha en die VSA. Ons sal vennote wees van wat ook al uit die proses geproduseer word,” het die minister gesê.

Biovac het verder uitgebrei en in ʼn verklaring gesê dié fasiliteit het ʼn strategiese samewerkingsooreenkoms met ImmunityBio aangegaan om die volle waardekettingvermoë vir die vervaardiging van biologiese middels in Suid-Afrika, insluitend die Covid-19-entstof, te ontwikkel.

Dié vermoë sal aanvanklik gerig wees op ʼn Covid-19-entstof, maar sal die grondslag lê vir Biovac en die Suid-Afrikaanse regering om op toekomstige pandemies te reageer.

Die Biovac-instituut in Pinelands. (Foto: Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

koos10 ·

Ja heeltemal reg, ons kan enige iets in SA maak, maar die politieke wil is nie daar nie, en daar is te veel administratiewe romp slomp.

Charles ·

Ja man, ons noem dit die Zuma 1.0 en as jy weer kyk is ons almal immuun teen die virus en dan voer ons dit uit na die res van die wereld, as jy weer kyk het ons al ons skuld betaal en so aan..

Jaco ·

SA kan self amper alles doen: atoombomme, ruimteskepe ens ens. Die probleem is net, regstellende aksie en BEE keer amper alles. Toe die Kaapse waterkrisis op sy ergste was, het die ANC ‘n water reddingsplan van die Israelis afgekeur, “want Israel is rassisties teenoor die Palestyne”. Toe kom ‘n SA entrepreneur met ‘n nog goedkoper plan wat al Kaapstad se waterprobleme sou oplos. Die DA-beheerde Stad Kaapstad het egter dié plan afgekeur, omdat die entrepreneur glo te min regstellende aksie en BEE in sy besigheid toepas. So mense van nogal alle rasse (ramaphosa se our people ook), moet maar eerder swaarkry en selfs sterf, solank regstellende aksie en BEE tog net reg toegepas word.

Pietertjie ·

Ai. Die maatskappy is seker nie BEE genoeg nie, of is nog nie op die bribes-lys nie. (ook bekend as die preferred-bidder system)

Johanncb ·

Die entstof teen Covid-19 word met groot sukses by Aspen in Port Elizabeth vervaardig! Die President het sélf in sy toesprake daarna verwys! Hoekom nou die rondvallery? Of maak iemand iewers groot geld uit die entstof?

Samuel ·

Dit is so dat daar slimkoppe in SA is en ons baie dinge doen en mededinged met die buiteland wees, MAAR hierdie is weer ‘n gulde geleentheid om geld te verduister en onwettige tenderaars aan te stel.

Mudguard ·

Vra net die ancestors. Dan word dit gemaak van gedroogde dassiemis en ou toonnaels met n knippie gerasperde rotsterte.

Johan ·

Sal in my lewe nooit diè entstof aanvaar nie. Dalk kan ons n vliegtuig bou,wie gaan dit waag om saam te vlieg?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.