SA kinders deel van Covid-entstofproef

Kinders tussen ses maande en 17 jaar oud sal deel van die proef vorm. (Foto: Unsplash)

ʼn Groep Suid-Afrikaanse kinders gaan deel vorm van ʼn wêreldwye Covid-19-entstofproef onder kinders en adolessente.

Die hoofdoelwit van die studie is om die doeltreffendheid van twee dosisse van die entstof teen enige bevestigde simptomatiese Covid-19-gevalle onder kinders tussen die ouderdomme van ses maande en 17 jaar te bepaal.

Altesame 14 000 kinders in vyf lande – Suid-Afrika, Chili, die Filippyne, Maleisië en Kenia – vorm deel van Numolux, wat die Sinovac-entstof versprei, se fase 3-entstofproef.

Die eerste Suid-Afrikaanse kind, uit ʼn groep van 2 000, word vandag by die Sefako Makgatho Universiteit (SMU) ingeënt en altesame sewe navorsingsentrums landwyd sal die entstowwe as deel van die proef toedien.

Deelnemers sal twee dosisse van óf die entstof, óf ʼn skynmiddel ontvang. Dit word 28 dae uitmekaar toegedien. Enige bevestigde gevalle van Covid-19 sal opgevolg word en ʼn tussentydse ontleding sal gedoen word wanneer 47 positiewe Covid-19-gevalle aangemeld word.

Die veiligheid van die entstof sal onder meer geëvalueer word op grond van enige negatiewe reaksie tot twaalf maande nadat die laaste dosis toegedien is.

Die proefneming word met die goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) gedoen en is as kliniese proef geregistreer.

“Die studie is wêreldwyd van gesondheidsbelang omdat ʼn entstof wat Covid-19 en die oordrag daarvan in kinders verhoed, ʼn belangrike instrument sal wees om die pandemie te stuit. Hoewel kinders en adolessente ʼn meer matige vorm van die siekte as volwassenes kry, is hulle steeds op alle ouderdomme vatbaar vir infeksie en ernstige siekte,” lui ʼn verklaring van die universiteit.

Die entstof is goedgekeur vir noodgebruik onder volwassenes in 50 lande wêreldwyd, en sedert einde Mei vanjaar ook vir noodgebruik onder kinders in China. Dit het ook goedkeuring van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), sê die vervaardiger.

Meer as 14 miljoen Suid-Afrikaners ouer as 18 is reeds teen Covid-19 ingeënt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.