SA-krieketster in hof oor dwelmgebruik

Wayne Parnell. Foto: cricizm.com

Wayne Parnell, die Suid-Afrikaanse krieketspeler wat van dwelmgebruik in Indië aangekla word, gaan vandeesweek met sy ondersoekbeampte in die land vergader.

Parnell (23) staar die aanklag in die gesig ná ʼn laataand partytjie in 2012 in ʼn spoghotel in Indië ná ʼn Indian Premier League (IPL)-kriekettoets. Parnell is verlede jaar in Mei saam met sowat 100 mense aangehou en vir mediese toetse gestuur nadat die polisie ʼn klopjag by die hotel in Mumbai uitgevoer het, en dwelms op die perseel gevind het. Parnell het destyds die land verlaat kort nadat hy mediese toetse ondergaan het.

Donne Commins, Parnell se agent, het bevestig dat Parnell hom onlangs, kort nadat hy in die land aangekom het, aan die Mumbai-hof oorgegee het, het Beeld Dinsdag berig.

Parnell het Maandag in die Mumbai-hof verskyn en is op borgtog van 10 000 rupees (R1 672) vrygelaat.

“Die hof het bevind dat hy vrylik mag reis en dat sy paspoort aan hom oorhandig moet word. Hy gaan Woensdag met sy ondersoekbeampte vergader sodat die aanklag teen hom geformaliseer kan word, maar hy ontken dat hy enigiets verkeerd gedoen het,” het Commins gesê.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.