SA kry eerste bedryfsvereniging vir kunsmatige intelligensie

(Foto: Tara Winstead/Pexels)

Suid-Afrika het Maandag die Suid-Afrikaanse Kunsmatige Intelligensie Vereniging (SAAIA) bekendgestel. Die vereniging is gestig om plaaslik verantwoordelike praktyke in kunsmatige intelligensie (KI) te bevorder.

Volgens dr. Nick Bradshaw, stigter van die vereniging, beoog die vereniging om professionele persone uit verskeie sektore soos handel, regering, akademie, beginners en nie-regeringsorganisasies bymekaar te bring.

In Suid-Afrika kan KI veral gebruik word om gesondheidsorg en vervoerstelsels te verbeter, terwyl dit selfs wildbewaringspogings verder kan aanhelp.

Terwyl die tegnologie talle geleenthede vir vooruitgang bied, het sommige Suid-Afrikaners hul kommer en weerstand teen dit uitgespreek. Een algemene bekommernis is die potensiële impak op werksgeleenthede. Baie mense vrees dat outomatisering en KI-gedrewe tegnologie menslike werkers kan vervang, wat tot werkloosheid en ekonomiese ongelykhede in Suid-Afrika kan lei, waar werkloosheidsyfers reeds skrikwekkend is.

Daarbenewens is daar ook kommer oor die etiese implikasies van die gebruik van KI, wat kwessies soos privaatheid, datasekuriteit en algoritmiese vooroordele insluit.

“Die primêre doel van die SAAIA is juis om die aanvaarding van verantwoordelike KI tot voordeel van Suid-Afrikaanse burgers aan te moedig.

“Die vereniging sal fokus op ekonomiese groei, handel, belegging, gelykheid en inklusiwiteit. SAAIA wil ook internasionale en plaaslike landskappe ontleed om die geleenthede en uitdagings te identifiseer wat KI en verwante tegnologie na Suid-Afrika kan bring,” het Bradshaw gesê.

SAAIA het tien sleuteldoelwitte gestel, wat insluit om as ʼn stem van die bedryf te dien, navorsing vir ingeligte besluitneming te verskaf, en die regering met beleidmaking by te staan, om ʼn paar te noem.

Bradshaw het benadruk dat die organisasie wil help verseker dat KI verantwoordelik gebruik word, op ʼn wyse wat beide sakeondernemings en die samelewing sal bevoordeel.

Hy glo die vereniging wil Suid-Afrikaners help verseker dat KI-stelsels op verantwoordelike wyse ontwikkel en gebruik word, sonder om inbreuk te maak op individuele regte of om diskriminasie te vererger.

Bradshaw het gesê hul navorsing het reeds gewys dat KI en ander outmatiseringstegnologie tans meer as 120 industrieë wêreldwyd raak. Die tegnologiese rewolusie vind teen ʼn duiselingwekkende spoed plaas, en skep meer nuwe geleenthede en uitdagings as ooit te vore.

Ander groot name wat deel is van die vereniging se stigtersadviesraadslede sluit in: Michalsons, GIZ, ExploreAI, Cirrus AI, TinyML Foundation, Augmented Startups, Data Economy Policy Hub (DepHUB), Socially Acceptable, mLab, Zindi, die Technology Innovation Agency, ecosystem.Ai, die Tshwane Universiteit van Tegnologie, die Wes-Kaapse regering en Webber Wentzel.

Die vereniging se individuele SAAIA-lidmaatskap is gratis en sy lede kry deur die jaar toegang tot hulpbronne, ontledings en nuus. Lede ontvang ook afslag om deel te neem aan die vereniging se jaarlikse geleentheid, die AI Expo Africa, wat vanjaar op 2 en 3 November in Johannesburg by die Sandton-konvensiesentrum gehou word.

Die SAAIA sal ʼn formele bekendstellingsgeleentheid en ʼn reeks inligtingstoere hou, wat op 19 Julie in Pretoria afskop.

(Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.