SA kry eerste kripto-kitsbank

Argieffoto (Foto: CoinDesk)

Die eerste kripto-kitsbank in Suid-Afrika wat met geldeenhede soos Bitcoin, Dash en Ethereum werk, sal einde dié week by ʼn kruidenierswarewinkel in Randburg in Gauteng in gebruik geneem word.

George Neophytou, algemene bestuurder van die Northwold Spar en ʼn kriptogeld-entoesias, het dié nuus aan Maroela Media bevestig.

Neophytou sê hy ondersoek al ʼn geruime tyd lank die idee om só ʼn kitsbank in Suid-Afrika in werking te stel.

Volgens hom is die doel uiteindelik om handelaars soos Spar te oorreed om kriptogeld as volwaardige betaalmedium te aanvaar – ʼn proses wat reeds by dié spesifieke handelaar en bykans 20 ander aan die gang gesit is. Meer as 1 000 ondernemings in Suid-Afrika, onder wie BidorBuy and Takealot, het dié proses reeds goedgekeur.

“Ek ondersoek die idee al vir ʼn geruime tyd en het baie navorsing gedoen om te kyk of so iets uitvoerbaar sou kon wees in ʼn Suid-Afrikaanse konteks. Ons het besef daar is baie mense wat belê in kriptogeld, maar dan nie later weet hoe om dit te gebruik nie, en ons wil dit vir hulle moontlik maak om eenvoudige goed soos inkopies te kan doen met behulp van kriptogeld,” sê hy.

Die eerste kripto-kitsbank in Suid-Afrika het sowat drie jaar gelede in Midrand gesluit. Neophytou sê dit was hoofsaaklik omdat dié geldeenheid destyds nog nie momentum in Suid-Afrika gehad het nie. “Die buiteland doen reeds besigheid met kriptogeld. Met ʼn onlangse besoek aan Europa het ek byna gedink dit is ʼn ander wêreld. Daar is so ʼn magdom moontlikhede, daarom wil ons ʼn toetslopie hier in Gauteng doen om te kyk hoe dinge verloop.”

Volgens die webwerf Coin ATM Radar bestaan daar wêreldwyd meer as 3 000 kripto-kitsbanke in 68 lande wat onder meer Amerika, Kanada, Israel, Ysland, Nieu-Seeland en selfs Zimbabwe en Djibouti insluit.

Die kitsbank gaan op dieselfde wyse as ʼn gewone kitsbank werk. Gebruikers sal die kitsbank kan gebruik om kriptogeld te koop en te verkoop en ook om die kriptogeld vir kontant te verruil.

Neophytou sê die kripto-kitsbank is al in die implementeringsfase en sal na verwagting teen die einde van dié week geïnstalleer word. “Ons is besig om die bepalings en voorwaardes te verfyn. Ons wil hê die proses moet glad verloop en die gebruik van die kitsbank moet baie veilig wees wanneer ons hierdie diens beskikbaar stel.”

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het in April vanjaar bekend gemaak dat hy sal voortgaan met die toepassing van normale inkomstebelastingreëls op kripto-geldeenhede en dat die SAID van belastingbetalers sal verwag om hul winste of verliese met kriptogeld as deel van hul belasbare inkomste te verklaar.

Die SAID sê die onus rus op belastingbetalers om alle belasbare kripto-inkomstes te verklaar in die belastingjaar waarin dit ontvang of verkry is. Belastingbetalers wat versuim om dit te doen, sal boetes opgelê word en rente op belasbare inkomstes betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vooruitdenker ·

Wonderlik! Ek dink dis fantastiese inisiatief wat mnr. Neophyto aan die dag lê.

julius ·

Hoe gaan die said weet wie handel met kripto as mense dit nie verklaar nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.