SA kyk na dié Afrika-lande vir olie

Jeff Radebe, minister van energie (Foto: Bongani Shilubane/ANA)

Suid-Afrika ondersoek Algerië, Ekwatoriaal-Guinee en Suid-Soedan as bronne vir ru-olie terwyl die land sy hoogste petrolpryse in die geskiedenis beleef, het die minister van energie Dinsdag gesê.

“Ons kyk aggressief na ander lande,” het minister Jeff Radebe aan die parlementêre portefeuljekomitee oor energie gesê. “As dinge goed gaan, glo ons dit kan die uitdagings oplos wat ons beleef.”

Radebe het na dié drie lande verwys in antwoord op ʼn vraag van LP’s waarom Suid-Afrika nie ʼn poging aanwend om meer olie in te voer van ander dele van die kontinent nie, op aanname dat dit goedkoper sou wees as gevolg van geografiese nabyheid.

Angola en Nigerië is reeds van Suid-Afrika se hoofbronne van ru-olie-invoere. Ongeveer 49% kom egter van Saoedi-Arabië, aldus getalle wat Radebe bekend gemaak het.

Tseliso Maqubela, adjunk-direkteur-generaal van die departement van energie, het die benadering tot Afrika-olievervaardigers bevestig om beter pryse te verseker, maar bygevoeg die staat se aandeelhouding in ʼn raffinadery kan die regering se pogings ondersteun om die besparing aan die verbruikers te bied.

Radebe het aan verslaggewers gesê Saoedi-Arabië en Koeweit het belangstelling getoon om nuwe raffinaderye in Suid-Afrika te bou en só belegging sal hoë prioriteit geniet tydens die regering se beleggingsberaad in Oktober, aangesien dit die land se behoefte om brandstof in te voer, sal verminder.

Hy het LP’s gerus gestel dat ʼn taakspan ministers teen die einde van September ʼn verslag sal uitreik oor wat die regering kan doen om petrolpryse en die impak daarvan op die ekonomie te verlig. Hy het egter gewaarsku dat die opsies baie beperk is, omdat Suid-Afrika afhanklik is van invoere van ru-olie en die pryse dus beïnvloed word deur faktore buite sy beheer.

Die minister is daarna gekap oor die petrolheffing, die Padongelukkefonds en die impak wat regeringsbeleide het op die wisselkoers, wat getuimel het ná pres. Cyril Ramaphosa aangedui het hy gaan voort met planne om die Grondwet te wysig om grondonteiening sonder vergoeding te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

marous ·

maar julle kyk na absulute flagrante bankrotskap deur diefstal , bedrog en korrupsie met stywe toe oge .

Andrea van Vuren ·

Joemat Peterson het destyds al ons kosbare reserwe oliebronne vir ‘n appel en ei verkwansel aan buurlande teen lae pryse. Is sy al ooit aangespreek?

Johann cb ·

Kan die regering nie help om die heffings, wat die prys so opjaag, te verminder nie!

Willem ·

Dis die druk wat die opposisie agv die heffings op hom plaas wat hom noop om te gaan soek, nie omdat hy vir die verbruiker omgee nie, maar omdat hy nie aan die heffings wil raak nie, want dan verloor die regering inkomste.

Chris Ws ·

Die R3.39 belasting op brandstof is die probleem.Neem dit weg en ons betaal weer onder R13 per liter.Maar die regering sal nie.Die brandstof prys gaan hulle NIKS aan doen nie.Kyk maar.
Volgende maand styg brandstof pryse weer met plus minus 14c /liter- seker weer agv die swak rand wat DIREK agv Cyril Ramaphosa se grond onteinings beleid is.

Lou ·

Die belasting op die petrolprys is een aspek, maar tel al die ander heffings by en omtrent 70% van die petrolprys is heffings en belasting. Ons behoort nie meer as R5 per liter te betaal nie……

Cherokee ·

Die regering is nie te blameer vir die hoë petrolpryse nie. Ook nie die ekonomie of die olielande nie. By intensiewe navorsing oor waar die probleem is, het ek die volgende bevind; die oplossing is uiters eenvoudig want die probleem is by die petrolpompe
Die tariefmeter en die volumemeter werk op afsonderlike ratte, so die spoed van die kostemeter is vinniger as diè wat die liters aanwys. Die stelsels se spoed is verkeerd-om en dit behoort eenvoudig te wees om te herstel.

Elize ·

@ Cherokee. Nog iemand wat die regering in watte toedraai. Siestog dit is nie hulle skuld dat die petrolprys so hoog is nie maar die pompstasies. Asseblief!!!!!!!!!!! Wie stel die prys van brandstof vas – die regering of die pompstasies? Kry jou huiswerk agter mekaar

wraggies ·

Wanneer gaan Joemat-Petterson in die hof verskyn vir die onregmatige verkoop van SA se strategiese olie reserwes? Waar is die geld heen?

Groeniec ·

Toe SA in ‘n oorlogsituasie was, was daar ‘n olie boikot teen hom. Dit het aanleiding gegee tot die stigting van SASOL.
Soos ek verstaan lewer SASOL steeds ±30% van ons brandstof teen ‘n geproduseerde prys van R3. 00/L. Daar is tans ‘n SASOL 1&2. Wat is fout met ‘n SASOL 3?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.