SA landbouers mag weer na die VSA reis

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die VSA het sy reisverbod hersien en maak nou voorsiening vir tydelike landbouwerkers vanuit tientalle lande, waaronder Suid-Afrika, om met ’n H-2A-visum tydelik in dié land te werk.

Die H-2A-program stel Amerikaanse werkgewers wat aan spesifieke regulatoriese vereistes voldoen, in staat om buitelandse burgers na die Verenigde State te bring om tydelike landbouposte te vul.

Die H-2A-visum is tot tien maande geldig.

Die hersiening van die VSA se reisverbod volg nadat die American Farm Bureau Federation (AFBF) ’n brief aan pres. Joe Biden se administrasie gerig het om te versoek dat buitelandse landbouwerkers, onder wie Suid-Afrikaners, te midde van die Covid-19-pandemie in die VSA toegelaat sal word.

Talle Amerikaanse boere en landbouorganisasies het toe reeds hul kommer oor die reisverbod uitgespreek wat landbouwerkers vanuit ander lande verhoed om ingespan te word gedurende die land se plant- en stroopseisoen.

“Hoewel dit van sleutelbelang is om ons land te beskerm teen nuwe variante van Covid-19, is dit in ons nasionale belang om produksie van voedsel, brandstof en vesel te verseker,” het die AFBF in sy brief gesê.

Zippy Duvall, president van AFBF, sê in die betrokke brief sowat 5 000 van sy buitelandse landbouwerkers kom vanuit Suid-Afrika. Suid-Afrikaanse landbouwerkers is naas Meksikaanse werkers veral gesog onder Amerikaanse boere.

“Baie van hierdie Suid-Afrikaanse H-2A-werkers beskik oor unieke vaardighede en Amerikaanse boere reken op hul tydige aankoms terwyl hulle planne beraam vir hul komende groeiseisoen,” het Duvall verduidelik.

Robyn Greybe van die plaaslike werwingsagentskap Golden Opportunities International sê Suid-Afrikaanse landbouwerkers is veral gesog in die VSA aangesien hulle groot masjinerie, waaronder vragmotors, stropers en trekkers, kan hanteer.

“Baie VSA boere is op soek na werkers met ’n kode 14-lisensie.” Dié lisensie stel ’n bestuurder in staat om ’n voertuig van meer as 16 000 kg te bestuur, met ’n sleepwa van meer as 750 kg.

Volgens Greybe het Golden Opportunities International verlede jaar meer as 1 000 landbouwerkers met die H-2A-visum gehelp om oor die waters te gaan boer. Dié boere het oor die hele VSA, waaronder die deelstate Noord-Dakota, Suid-Dakota, Iowa, Texas en Kansas, gedurende die plant- en stroopseisoen gaan werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

Wonderlik. Dit nogal onder die bewind van die liberale human rights georiënteerde Demokrate. Dié wat wil gaan moet maar vinnig wikkel, voordat ramaphosa vir sy vriend Joe Biden leuens vertel en hom aanraai om nie werk vir “wit rassiste” te gee nie.

Anel ·

Dit is baie jammer dat soveel van ons wit kinders in die buiteland moet gaan werk. Alhoewel hulle baie gesog is word baie van hulle ook nie watwonders behandel nie. En ons kinders kla nie want hulle wil werk. Oral, in baie beroepe is ons Afrikaanssprekende jongmense gesog. Hulle opvoeding was streng en hulle kla nie, of staak nie of “demand” nie. Hulle doen maar net. Dink net hoe sou die land nie beblom het met sulke jongmense nie. Baie hartseer.

Phillip ·

My hart breek dat ons mense na ander landed moet gaan terwyl meer as 10keer swart memse weke het as wittes word bee en AA goed gepraat deur anc. Siek man

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.