SA leen miljarde by IMF

Die minister van finansies, Tito Mboweni. (Foto: ANA)

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se uitvoerende raad het Suid-Afrika se aansoek om ’n bykomende noodlening ten bedrae van $4,2 miljard (R71 miljard) goedgekeur. Dié geld gaan aangewend word om die sosiale en ekonomiese impak van die Covid-19-pandemie op die land teen te werk.

Volgens ’n verklaring uitgereik deur die nasionale tesourie word die geld teen ’n lae rentekoers geleen wat sal bydra tot die regering se fiskale verligtingspakket. Dit sal terselfdertyd die regering die geleentheid gee om te besluit oor hoe om die geld die beste aan te wend ten einde die nodige finansiële verligting te bied om ’n nuwe ekonomie tot stand te bring en verdere skade aan die bestaande ekonomie te voorkom.

“Die land is swaar getref deur die pandemie, en die regering is genoop om met fiskale en monetêre maatreëls vorendag te kom om die sukkelende ekonomie te ondersteun en op die negatiewe gevolge daarvan op die samelewing te reageer,” lui die verklaring.

Tito Mboweni, minister van finansies, het op 24 Junie vanjaar die aanvullende begroting in die parlement voorgelê. Maroela Media het vroeër berig dié begroting is die eerste van sy soort en moet Suid-Afrika se besteding wysig om op te maak vir die stappe wat die regering noodgedwonge moes doen om die verspreiding van die koronavirus teen te werk.

Mboweni het daarop gewys dat Suid-Afrika se grootste ekonomiese risiko egter die stygende vlakke van skuld is. Hy het ook daarop gewys dat die Covid-19-pandemie en gevolglike afsondering ʼn tekort van 15,7% van die bruto binnelandse produk (BBP) vir Suid-Afrika veroorsaak het, wat uitloop op ʼn begrotingstekort van R761 miljard. Dit is meer as dubbel die aanvanklike tekort van R370 miljard (6,8% van BBP) wat die regering voor die uitbreek van Covid-19 in Suid-Afrika voorsien het.

Openbare besteding is herprioritiseer ten opsigte van Covid-19-verwante ingrypings en ekonomiese herstelpogings. Die verligtingspakket sal voorsiening maak vir gesondheid- en voorste linie-dienste, om die mees kwesbare en weerlose landsburger te beskerm, om werkskepping aan te moedig, om ekonomiese groei deur hervorming te ontsluit en openbare skuld te stabiliseer.

Na aanleiding van die IMF se besluit, het Mboweni gesê die regering se hulppakket sal R500 miljard direk aanwend om die probleem die hoof te bied. “Dit is een van die grootste ekonomiese ondersteuningspakkette in die ontwikkelende wêreld,” sê hy.

Mboweni sê die Suid-Afrikaanse reserwebank het ook sy rentekoers verlaag om dit vir banke te vergemaklik om geld uit te leen en likwiditeit in die plaaslike leningsmark te ondersteun.

“Die regering se uitgawes en belastingvoorstelle, sowel as die leningwaarborgskema en loonbeskermingsmaatreëls, bied beskerming aan werkers en behoeftiges, terwyl dit hulle help om kop bo water te hou gedurende hierdie moeilike ekonomiese tye. In die toekoms sal ons fiskale maatreëls op ons sterkpunte van die beleid voortbou en die bestaande ekonomiese kwesbaarhede beperk wat deur die Covid-19-pandemie vererger is,” sê Mboweni.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

49 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jeandre

Binnekort besit iemand anders die land as gevolg van al S.A. se buiteland skuld.

Grens

Covid-19 The gift to the ANC that keeps on giving.

PH

Stel asseblief ‘n konsortium van onahanklike ouditeure aan om die geld te hanteer.

JohanEtz

Dié geld gaan nog korter hou as die R500bn!

Yolandie

Al dieper in die skuld, geensins instaat daartoe om met geld te werk…..kry ‘n lening wat ons nie kan terug betaal nie. EN weer sal die geld verdwyn…..en geen rekenskap/verantwoording sal gegee word van hoe die geld aangewend is nie. Die geld sal diep in die kaders se koffers verdwyn.