SA ma weer in Londen-hof ná kinders se moord

facebook-picture-of-gary-clarence

Gary Clarence en sy tweelingseuns Foto: Facebook

Tania Clarence (43), ʼn ma van Suid-Afrika wat drie van haar kinders in Engeland versmoor het, het Vrydag onbedaard in die hof gehuil toe sy verdere besonderhede oor die moord bekend gemaak het.

Clarence het voor die Old Bailey in Londen verskyn nadat sy verantwoordelikheid aanvaar het vir die sterftes van Olivia (4) en die driejarige tweeling Ben en Max by hul gesinshuis in New Malden, suidwes van Londen, het die Press Association in Engeland Vrydag berig.

Die hof het gehoor hoe sy, as gevolg van erge depressie, die gestremde tweeling met ʼn babadoek versmoor het voordat sy die ouer sussie vermoor het en wou selfmoord pleeg.

Maar nadat sy 20 minute lank die besonderhede van die saak aangehoor het, insluitend die “groteske” ontdekking van die tweeling se liggame, was sy te ontsteld en regter Nigel Sweeney het haar verskoon. Haar man Gary, beleggingsbankier, en ander familielede het in die hof gebly.

Staatsaanklaer Zoe Johnson het gesê al drie kinders het aan spinale spierdistrofie gely. Die siekte, wat ook as “floppy baby”-sindroom bekend staan, veroorsaak dat kinders nie beheer het oor hul bewegings nie en hul lewensverwagting word drasties beperk. Johnson het gesê indien die egpaar geweet het die kinders ly aan dié siekte voordat hulle vroeggebore is, sou hulle nie met die swangerskap voortgegaan het nie.

Sy het gesê Gary en die gesin se agtjarige dogter het voor die sterftes op 18 April na Suid-Afrika vertrek en die beskuldigde en die drie kinders het alleen by die huis gebly. Die kinderoppasser was ook die dag met verlof. “Ons voer aan dat die beskuldigde van die geleentheid gebruik gemaak het om haar drie gestremde kinders se lewens te beëindig, alhoewel haar bedoeling eers die Maandag geformuleer is.” Volgens Clarence het die moorde iewers tussen middernag en 03:00 op 22 April plaasgevind. “Sy het eers die tweeling versmoor, en dit was moeiliker om Olivia dood te maak. Sy het tussen die seuns se moord en Olivia se afsterwe ʼn brief aan haar man geskryf.

“Die sterftes het later dieselfde aand aan die lig gekom nadat die kinderoppasser, ʼn vrou genaamd Jade, ʼn oproep van Clarence se ma ontvang het wat haar deur die loop van die dag nie in die hande kon kry nie. Jade en ʼn pastoor en vriend, Daniel Magagnin, is na die huis en het Clarence in haar slaapkamer aangetref. “Sy het die deur net ʼn skrefie oopgelaat en sy het ʼn handdoek vasgehou. Mev. Clarence het hulle die heeltyd versoek om die huis te verlaat en haar alleen te los. Sy het gefluister,” het Johnson verduidelik.

Magagnin wou by Clarence weet of hy vir haar moet bid, maar sy het gesê hy moet weggaan en dat sy ʼn privaat persoon is. Sy het glo gesê, ‘dit is te laat, dit is te laat, daar is niks wat jy kan doen om hulle te help nie’.

Jade het haar omhels en Clarence het die duvet oor haarself getrek. Magagnin het bloed aan haar gewrig opgemerk en die noodnommer 999 geskakel. Hy het die tweeling se slaapkamerdeur oopgemaak en hul lykies aangetref. Dit was só ʼn groot skok dat hy nie na Olivia kon soek soos wat die nooddiensoperateur hom versoek het om te doen nie.

Intussen het Clarence ʼn brief aan Jade oorhandig: “Ek is so jammer dat ek dit gedoen het, maar ek kon nie meer aangaan nie. Ek kon ook nie die kinders by Gary los nie. Dit sou vir hom te veel gewees het. Jy was so ʼn wonderlike persoon die afgelope paar jaar vir ons. Sonder jou sou ek dit moontlik lankal gedoen het.”

Toe die polisie by die huis in Thetfordweg opgedaag het, was Magagnin al histeries toe hy ʼn vroulike polisiebeampte na die tweeling se liggame moes neem.

Die hof het verlede maand Clarence se skulderkenning aanvaar op die aanklag van strafbare manslag weens verminderde aanspreeklikheid.

Sweeney sal na verwagting later ʼn hospitaalbevel uitreik.

Lees alle vorige berigte wat met Tania Clarence verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pop ·

Ek kry haar so verskriklik jammer. En watse man het sy wat haar alleen los en loop vakansie hou. En nou gaan hy seker van haar skei ook> Stomme vrou

lillian ·

Ek kry die vrou uit my hart uit jammer!

Hoekom het haar man haar alleen gelos, hy sekerlik geweet van haar gemoedstoestand, maar hy gaan hou vakansie in RSA en sy moet alleen voort sukkel met 3 gestremde kinders. Inteendeel, ek dink sy het meer die vakansie nodig gehad as hy!

Sterkte, vir jou, God het jou hart gesien, Hy sal jou vergewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.