SA maak harte vir flaminkkuikens oop

kleinflaminkkuikens-kimberley

Duisende kleinflaminkkuikens is na rehabilitasiesentrums uitgeplaas sedert Kamfersdam in Kimberley opgedroog het. Foto: Kimberley SPCA / DBV/Facebook.

Privaat speurder Mike Bolhuis gaan ʼn ondersoek van stapel stuur om te bepaal wie verantwoordelik is vir die krisis wat daartoe gelei het dat duisende flaminkkuikens wees gelaat is.

Bolhuis meen buiten die droogte in die Kimberley-gebied in die Noord-Kaap het wanbestuur en nalatigheid veroorsaak dat die Kamfersdam, wat die tuiste van duisende kleinflaminke (Phoenicoparrus minor) is, nou sonder water sit.

Honderde flaminke het hulle neste, eiers en kleintjies verlaat nadat water in die pan verlede week bykans heeltemal opgedroog het. Ander het gevrek terwyl hulle hul eiers en kuikens probeer beskerm het.

“Ek het sekerlik nou weer my neus in sake ingesteek waar dit nie hoort nie, maar ek kon eenvoudig net nie terugsit en kyk hoe die kuikens vrek nie,” het Bolhuis, ʼn natuurliefhebber wat self 110 grootflaminke en 10 kleinflaminke op sy kleinhoewe net noord van Pretoria aanhou, gesê.

Sowat 900 van die kuikens is Vrydag na sy kleinhoewe uitgevlieg. Bolhuis het sy gimnasium en ʼn veiligheidshuis in ʼn hawe omskep waar ʼn span van sowat 30 vrywilligers, voëlkenners en veearts nou die honderde kleinflaminkkuikens versorg.

Intussen is nog 250 van die kuikens Maandag na Ushaka Marine World in Durban vir versorging uitgevlieg. Twee rehabilitasiesentrums in die Wes-Kaap het ʼn verdere 660 van die kuikens ingeneem.

“Dit is baie erg. Die dam is byna heeltemal leeg en ʼn mens moet kniediep in die modder loop om by die kuikens uit te kom.

“Reg rondom jou lê gevrekte voëls. Ander kuikens sit en snak na asem soos wat hulle hiperventileer van die hitte. Ander kan weer nie hulle doppe heeltemal oopbreek nie en kook in hulle eiers dood.

“As dit dalk net ʼn paar honderd kuikens was, sou dit seker erg genoeg gewees het, maar daar was duisende kuikens,” het ʼn moeë Linja Allen, van die niewinsgewende gemeenskaporganisasie Saam Staan Kimberley, vroeër die week aan Maroela Media gesê.

Allen het gesê die dam word nou gemonitor om te sien of te bepaal of daar nog eiers is wat uitbroei en of daar nog kuikens is wat hulp benodig.

Talle vrywilligers het die naweek onverpoos saam met die dorp se afdeling van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) gewerk om te verseker dat soveel kuikens moontlik gered word.

Kenners maak alarm

Voëlliefhebbers in die omgewing waarsku al sedert die begin van die jaar dat flaminke hulle neste en eiers weens die krimpende watervlak en erge hitte verlaat en dat die gebied op ʼn ramp afstuur.

Omgewingsaktiviste het gesê die pan, wat ʼn erfenisgebied en erkende vleiland is, word nie genoegsaam deur die owerhede gemonitor nie. Dit terwyl dié dam slegs een van vier broeiplekke vir kleinflaminke in die wêreld is.

Die Sol Plaatje-munisipaliteit pomp gewoonlik daagliks gesuiwerde water van die Homevale-rioolaanleg in die pan. ʼn Plaaslike myn, gholfbaan en boere koop ook van die water aan.

Volgens ʼn woordvoerder van die munisipaliteit kon daar sedert 9 Januarie nie genoeg water na die Kamfersdam ingepomp word nie. Stukkende rioolpype en -pompe asook lekkasies het veroorsaak dat die rioolaanleg nie genoeg water ontvang het nie.

Boonop het die munisipaliteit ʼn kontraktuele verpligting gehad teenoor ʼn mynmaatskappy wat diamante in die omgewing ontgin, en dit het glo verhoed dat genoeg oorblywende water in die pan gepomp word.

Rehabilitasie van flaminkkuikens

Bolhuis het gesê dit is die grootste rehabilitasiepoging wat hy nog aangepak het, maar hy is oorweldig deur mense se steun vir die projek.

“Ek wil almal bedank wat ons tans help. Saam vorm ons ʼn sterk ketting wat hierdie ding gaan deurtrek.

“Terwyl ons die voëltjies Vrydag al om die drie tot vier uur gevoer het, het ek sommer trane in my oë gekry toe ek hulle wil om te oorleef, sien.”

Bolhuis het gesê die eerste fase van die projek is nou om die kuikens aan die lewe te hou met ʼn dieet van verwerkte Nestum, visse, garnale en eiers.

Daarna sal die kuikens versorg word tot hulle self kan eet en as “tieners” terug in voëlgemeenskappe geïntegreer kan word.

“Dan sal ons moet besluit waarheen die flaminke uitgeplaas kan word. Dit kan terug na Kamfersdam wees of by ander damme of geakkrediteerde instansies,” het Bolhuis gesê.

Hierdie video word met die vergunning van Find It Kimberley geplaas en wys die reis van die flaminkkuikens vanaf die DBV in Kimberley tot waar hulle opstyg met ’n privaat vlug na Pretoria:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Charles ·

Welgedaan aan almal wat betrokke is, julle is wonderlik! Dankie, dankie, dankie!

Paul ·

Skitterend, as ons almal maar so vir die natuur omgegee het, sê net as jy hulp nodig het en ek is daar!

Paul ·

Ek sien vanoggend op Netwerk24 Mike Bolhuis waarsku dat skenkers van geld vir die versorging van die flaminkies moet bedag wees op mense wat wil voorgee dat hulle betrokke is om so geld vir hul eie gewin te bekom. (bedrogspul.)

Wessel ·

Cyril, en minister van omgewingsake, kyk mooi hoe dinge gedoen word.

Felix ·

Kyk, net om Bolhuis te belewe soos hy vir ons wys hoe dinge gedoen moet word bly ek in SA, hierdie man gee net nie moed op nie, dit is ‘n belewenis om te sien hoe hy tewerk gaan, ek gaan ons vlug na AUS net more kanselleer.

Lara ·

Asb DIS NOOD BY Onderstepoort!!! Ons hardkloop uit kos uit!!!

Good-day.
My name is Ilse Meyer.
Im working with Onderstepoort to rescue a couple of hundreds of starving/sick Flamingos.
We need desperately food for these chicks who has been abandoned by their parents due to a water shortage.
Pls pls can you perhaps donate some frozen Sardines and Shrimps to us to feed these little babies..
If not I will understand.
Thank you.
Ilse Meyer
FB- Laat Waai Papagaai ( Owner)

Share asb en HELP!!!

aj ·

Hi Lara

As ons wil donasies maak vir kos vir die Flamink kuikens … hoe gaan ons tewerk?

Is daar ‘n bankrekening waarin ons kan inbetaal?

Pieter ·

Die Diamantmyn is ook verantwoordelikheid vir die dam se water, nogal ‘n Nedbank Green Award daarvoor ontvang. Smaak my dit het meer vir die toekenning as die saak gegaan. Onvolhoubare sake. Mooi so Mike sonder die geel hemde en rooi oorpakke.

Giel ·

Die geel hemde en rooi oorpakke sien mens net daar waar betoog word en ongelukkigheid bestaan.

Linda ·

Dit is n skande dat die Regering Miljarde Rande aan Zimbabwe wil skenk in plaas daarvan om na ons eie land se probleme te kyk !!! Dankie Mike Bolhuis en soveel mense wat met hierdie projek werk.

Michelle ·

Baie dankie vir al jul harde werk om die voëltjie ‘n tuiste te gee en iewers in ons korrupte vuil land n stukkie mooi te maak mag julle almal geseënd wees.

Tiaan ·

Beter om diere te red as om karre en fietse uit te deel…..

jean ·

Watter omgee man en sy mense…..en watter tragedie dat dinge sover moes gaan deur absolute slegtigheid!!!

SELF ·

Baie baie dankie. Ja nee wat, dit het nou baie duidelik geword dat as die gemeenskap iets gedoen wil hê moet hulle dit eerder self doen. As hulle iets wil oppas, stel die stukke op van dit wat oor is en bou self weer op. Vergeet van munisipaliteit en vergeet van die regering – die geldgod het daar oorgeneem, en ry almal die verdoemenis in. Intussen is daar nie veel meer oor van enige infrastruktuur nie, en vergaan mens en dier rondom alles waaraan die ou spulletjie vat. Ons het dit voorheen self gedoen, ons moet dit maar weer self doen.

Magda Kok ·

Doen dit asb, en vervolg so ver kan, voordat daar weer een of ander kommissie aangestel word om te ondersoek.

WIEBO ·

Baie baie dankie vir al die mense wat gehelp het en nog steeds hulp aanbied en vir Mike Bolhuis ook! Julle sal geseen word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.