SA maak in dekade nie hond haaraf met korrupsie

(Argieffoto: SA Polisie)

Suid-Afrika is terug op die posisie wat hy in 2012 op Transparency International se heel eerste korrupsiepersepsie-indeks beklee het. Dít beteken die land het in meer as ʼn dekade min tot geen vordering gemaak om burgers se opvatting oor die voorkoms van korrupsie te verander nie.

Dié korrupsiepersepsie-indeks meet jaarliks 180 lande en gebiede aan die korrupsievlak en werk op ʼn skaal van nul tot 100 waar nul erg korrup is en 100 baie skoon is. Hierdie indeks word wêreldwyd as die toonaangewende aanwyser van korrupsie, veral in die staatsdiens, beskou.

Suid-Afrika staan nou weer op nommer 43 nadat hy met een posisie vanaf 2021 tot 2022 geval het.

Karam Singh, uitvoerende direkteur van Corruption Watch, ʼn plaaslike organisasie wat korrupsie beveg, sê Transparency International se korrupsiepersepsie-indeks verteenwoordig jaarliks ʼn geleentheid vir lande om hulself te bewys met tasbare pogings om korrupsie te bestry.

“Die feit dat Suid-Afrika ʼn posisie verloor het op ʼn tydstip waarop daar ʼn mate van momentum blyk te wees na aanleiding van die bevindings van die Zondo-kommissie se verslae, is besonder ontstellend,” sê Singh.

“Dit is nie juis vertroostend dat ons leiers lippediens aan die teenkorrupsie-agenda lewer, te midde van ʼn omgewing wat nié net vyandig is nie, maar uiters gevaarlik vir fluitjieblasers en aktiviste wat die groot ongelykheid en onregverdighede probeer aanpak, wat deur korrupsie geskep word.”

Maroela Media het verlede jaar berig oor die moord op Babita Deokaran nadat sy alarm gemaak het oor grootskaalse bedrog by die Tembisa-hospitaal.

Singh sê die jongste indeks skets egter ook ʼn ontstellende prentjie van ʼn toenemend gevaarlike wêreld en beklemtoon die skakel tussen korrupsie en konflik wêreldwyd. Dit wys ook op die bedreiging wat korrupsie vir vrede en veiligheid inhou.

Suid-Afrika deel tans sy posisie met Benin, Bulgarye, Ghana en Senegal op die globale indeks.

Uit al die streke bly Afrika suid van die Sahara egter die laagste op die indeks met ʼn gemiddeld van 32 uit 100, wat beteken dat leiers min vertroue by inwoners inboesem. Altesame 44 uit 49 lande in dié streek het ʼn telling onder 50 behaal wat dui op ʼn bose kringloop van korrupsie, geweld en onstabiliteit.

Seychelle het tans die hoogste telling in hierdie streek (70), gevolg deur Botswana (60) en Cabo Verde (60). Dié lande het albei effense vordering gemaak in hul stryd teen korrupsie.

Burundi (17), Ekwatoriaal-Guinee (17), Suid-Soedan (13) en Somalië (12) het die laagste telling behaal.

Die globale gemiddeld het egter vir die elfde jaar agtereenvolgens onveranderd (#43) gebly, wat daarop dui dat meer as tweederdes van lande ʼn telling onder 50 behaal en dus ʼn ernstige probleem met korrupsie het.

Dit dui ook daarop dat die meeste lande, nes Suid-Afrika, in meer as tien jaar min tot geen vordering gemaak het om korrupsie aan te pak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Porseleintjie ·

Om hond haaraf met korrupsie te maak, moet daar eers klaar gemaak word met die hart van korrupsie in SA. Verwyder die ANC.

Andre ·

Dit is duidelik soos daglig hoekom dit so is
a) die ingebore kultuur van misdaad oor jare
b) die onvermoë van die huidige regime om sterk dissipline daar te stel uit vrees dat hy ontbloot sal word as medepligtiges of stemme kan verloor
c) die gevaar wat teenstanders van hierdie kriminele kultuur moet ervaar in die mafia staat; “ bly stil of jy raak stil”
d) kiesstelsel waar gewildheid die criteria is; bevoegheid is taboe
Dit is ‘n paar redes hoekom die situasie net gaan versleg

Gerhard ·

Dit is juis die korruptes wat in beheer is om korrupsie hond haar af te maak. Nee wat, kyk waar sit ons a.g.v korrupsie……in ‘n baie diep gat wat nie ek en baie ander weet hoe en of ons daar gaan uitkom nie. ANC verwoes ons land met korrupsie en dit vier hoogty in die SAPS.

Katinka ·

Dit verbaas my nie. Korrupsie in Suid-Afrika is ‘n komplekse kwessie met veelvuldige bydraende faktore, insluitend ‘n gebrek aan aanspreeklikheid, swak instellings en onvoldoende stelsels om korrupsie te voorkom en te bekamp. Ander faktore sluit in armoede, ongelykheid en ‘n geskiedenis van politieke en ekonomiese stelsels wat korrupsie in staat gestel het om te floreer. Om korrupsie in Suid-Afrika aan te spreek sal ‘n kombinasie van verbeterde bestuur en groter deursigtigheid vereis, sowel as ‘n volgehoue ​​poging van burgers, die burgerlike samelewing en die private sektor om etiese gedrag te bevorder en die maghebbers aanspreeklik te hou.

Riaan ·

Nogal interessant dat die ANC altyd eerste of minstens in die top 3 in lyste voorkom van opnames wat handel oor swak vordering en dienslewering, maar is “nowhere in sight” as dit kom by enige iets positief.

marius ·

Verrot en korrup het deel van die gemors se bestaan geword en hulle sal nooit verander nie .

Harley Davidson ·

Die korrupte mense het meer geword die sogenaamde leiers het meer onbevoeg geword en die polisie al meer pateties, so wat verwag jy.

Danie ·

Nou dis eenvoudig maak wolf skaapwagter dan het jy n antwoord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.