SA mag nie ‘veilige hawe vir sluipmoordenaars’ word

Leah Karegeya. Foto: verskaf

Die Randburgse landdroshof het die saak oor die dood van ʼn voormalige Rwandese intelligensiehoof in Suid-Afrika na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) terugverwys. Die burgerregtegroep AfriForum het gesê adv. Gerrie Nel, hoof van sy privaatvervolgingseenheid, het vroeër vandag in die informele geregtelike doodsondersoek na kol. Patrick Karegeya se dood verskyn.

Die landdros het die ondersoekbeampte in die saak in Januarie 2019 beveel om te sê wat hy gedoen het om die Rwandese verdagtes aan te keer, omdat dié mense se identiteit en ligging bekend is. Die ondersoek is toe van die rol geskrap, nadat Nel ’n aansoek ingedien het dat daar geen rede is vir die lei van getuienis in ’n formele geregtelike ondersoek nie.

Hy het aangevoer die landdros het reeds al die getuienis voor hom wat hom in staat sou stel om ’n bevinding rakende aanspreeklikheid te maak. Die ondersoekbeampte se verklaring het dit bevestig en die landdros het die ondersoek informeel afgehandel.

“Sou die NVG, Valke en polisie versuim om die verdagtes in dié saak te vervolg, sal dit beteken dat Suid-Afrika ’n veilige hawe vir sluipmoordenaars geword het. Dié uitspraak stuur ’n boodskap aan die polisie en die NVG dat hulle nie kan nalaat om misdadigers te vervolg bloot omdat hulle politieke verbintenisse het nie.

Adv. Gerrie Nel. (Foto: verskaf)

“Ons hoop dat die NVG nou hul wetlike verpligting sal nakom om die verdagtes tot die volle omvang van die reg te vervolg. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal die proses en die verloop daarvan noukeurig moniteer en staan reg om aansoek te doen om ’n nolle prosequi-sertifikaat (ʼn besluit om nie te vervolg nie) sou die NVG weereens versuim om geregtigheid na te jaag,” het Nel gesê.

Karegeya se liggaam is in 2014 op Nuwejaarsdag in sy hotelkamer in Sandton, Johannesburg, gevind. Maroela Media het destyds berig Karegeya is na bewering verwurg. ʼn Bebloede handdoek en ʼn gordynkoord is in ʼn kluis in sy hotelkamer gevind.

Teenstanders van die Rwandese regering sê Karegeya is vermoor op aandrang van Paul Kagame, president van Rwanda. Kagame en Karegeya was vroeër bondgenote en het saamgeveg in die Rwanda Patriotic Front. Karegeya is in 2004 in hegtenis geneem en het 18 maande tronkstraf uitgedien vir beweerde diensverlating en insubordinasie.

Patrick Karegeya

Hy was sedert 2007 in ballingskap in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Josie ·

@Ekke, ek wou nou ook sê, SA is reeds n veilige hawe vir ENIGE moordenaar en krimineel

Riaan ·

Miskien moet Afriforum en Gerrie eerder die geld, tyd en energie spandeer om multichoice vir hulle diskriminerende en rassistiese besigheidspraktyke aan te vat?

Paul ·

Ek kan ook nie verstaan wat aangaan nie. Hulle het nog net vreemde sake hanteer en niks om die Afrikaner te help nie

HPV ·

Hulle moet liewer hul tyd en energie spandeer om malema se aanhitsing tot volksmoord voor die Internasionale Hof te bring aangesien die mrk net ‘n lakei van die anc/eff/blf is. Rwanda kan hier herhaal word.

PJC ·

Die rede agter Afriforum se optrede is om die ANC regering in die toekoms te verhoed om mense met politieke vebintenisse wat misdaad pleeg te beskerm. ń Ander goeie voorbeeld hiervan is Grace Mugabe.

Alida ·

Jy is verniet bekommerd. Hulle gaan nog BAIE besig word. Watch net.

George in Bloem ·

Dis wonderlik om te weet sluipmoordenaars is nie welkom hier nie maar massamoordenaars is wel. Ek slaap nou soveel rustiger.

Naas ·

Die NVG, Valke en polisie, net soos talle ander instansies, is tot algehele onbevoegtheid getransformeer. Tragies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.