SA man dood gevind in Bahamas

Shaun Beukes. Foto: Facebook

Shaun Beukes. Foto: Facebook

ʼn Suid-Afrikaanse man wat vroeër die maand in die Bahamas verdwyn het, is dood gevind.

Volgens ʼn inskrywing op die “Find Shaun Beukes”-Facebookblad is Beukes (34) op Sondag 3 Mei dood. Hy is die laaste keer in die Grand Bahama-area gesien.

Greg Wells-Clifton, die familie se woordvoerder, het op Facebook gesê Beukes het ʼn werkskonferensie in Orlando in die VSA bygewoon waarna hy na Miami vertrek het. Hy het hierna na Grand Bahama, die noordelikste eiland van die Bahamas-eilandgroep, gereis om ʼn vriend te ontmoet.

Beukes sou op 3 Mei weer Miami en dan Atlanta toe gaan voordat hy sou terugkeer na Suid-Afrika. Volgens Wells-Clifton was Beukes die Sondag by die hawe om ‘n veerboot na Miami te haal. Hy het glo omstreeks 15:40 die polisie gebel en gesê hy sukkel om asem te haal.

Volgens Wells-Clifton het Beukes met paramedici se aankoms op die toneel reeds inmekaargesak. Hy het nog geleef en is na die Rand Memorial-hospitaal vervoer. Hy is egter met sy aankoms dood verklaar. “’n Nadoodse ondersoek is gedoen om te verseker daar was geen vuilspel nie.”

Wells-Clifton het gesê hulle glo Beukes het ʼn asma-aanval gehad. Reëlings word intussen getref om Beukes se liggaam na Suid-Afrika terug te bring. Beukes laat sy ouers en twee susters agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.