SA man en vrou wen Twee Oseane

Gerda Steyn. Foto: Skermskoot/Twee Oseane

Suid-Afrikaners het Saterdag die mans- sowel as die vroue-afdeling van die Twee Oseane-ultramarathon oor 56 km gewen.

Bongmusa Mthembu het in die mansafdeling met ʼn tyd van 3:08:39 geseëvier terwyl die verdedigende kampioen in die vroue-afdeling, Gerda Steyn, in ʼn tyd van 03:31:28 die wenstreep weer eerste oorgesteek het.

Die Suid-Afrikaner David Gatebe, wat verlede jaar derde was, het tweede in die mansafdeling geëindig in ʼn tyd van 03:10:28 gevolg deur Kenia se Justin Kemboi wat verlede jaar die wenner was. Kemboi se tyd was 03:11:22.

In die vroue-afdeling het Mamorallo Tjoka van Lesotho die wenstreep tweede oorgesteek in ʼn tyd van 3:38:22. Suid-Afrika se Irvette van Zyl was derde in ʼn tyd van 03:41:31.

Steyn het Frith van der Merwe se rekordtyd van 3:30:36 wat in 1989 opgestel is net-net gemis. Mthembu was egter ʼn hele paar minute buite Thompson Magawana se rekord van 3:03:44 wat in 1988 opgestel is.

Bongmusa Mthembu toe hy in 2017 die Comrades Marathon gewen het. Foto: Twitter

In die Twee Oseane-halfmarathon oor 21 km was Suid-Afrika se Elroy Galant (1:03:20) die wenner in die mansafdeling gevolg deur Jobo Khatoane (1:03:31) van Lesotho en nog ʼn Suid-Afrikaner Stephen Mokoka (1:03:37).

In die vroue-afdeling was Helalia Johannes (1:10:30) van Namibië eerste oor die wenstreep gevolg deur Betha Chikanga (1:14:29) van Zimbabwe en haar landgenoot Fortunate Chidzivo (1:15:39).

Die roete vir die ultramarathon oor 56 km is Vrydag op die nipper verander in belang van deelnemers se veiligheid te midde van betogings in die Kaap. Die roete loop dus nié meer oor Chapmanspiek nie, maar eerder al langs Ou Kaapse-weg.

Minstens 16 000 atlete het aan die halfmarathon deelgeneem terwyl 13 000 deelnemers sake in die ultramarathon uitgespook het.

Dit is vanjaar die 50ste keer dat dié ultramarathon aangebied word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

IK ·

Veels geluk aan julle. Sjoe, Gerda is die ene ‘smiles’ en lyk of sy net van om die hoek begin draf het!
Skynbaar is haar tyd een sekonde stadiger as MM se weergawe nl. 3:31:29, volgens my berekening is dit gelykstaande aan ongeveer 4,4m.
Frith sou darem met rofweg 334m gewen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.