SA man hoor sy lot in Britse hof

Victoria en Emile Cilliers.

Emile Cilliers (38), ʼn Suid-Afrikaner wat ʼn sersant in die Britse weermag is, is in Engeland skuldig bevind op twee aanklagte van poging tot moord.

Cilliers se voormalige vrou, Victoria (42), het wonderbaarlik oorleef nadat sy op 5 April 2015 in Wiltshire, Engeland, tydens ʼn valskermsprong 1,2 km ver geval het nadat haar valskerm nie wou oopgaan nie. Sy het onder meer haar been gebreek en rugbeserings opgedoen en was drie weke lank in die hospitaal.

Cilliers se verhoor het in die Winchester Crown Court plaasgevind en die jurie het Donderdag bevind Cilliers het sy vrou by twee geleenthede probeer vermoor. Hy het eers doelbewus ʼn gaslekkasie veroorsaak in die huis waar hulle gewoon het.

Toe dit nie gewerk het nie, het Cilliers sowat ʼn maand later die onderdele van Victoria se valskermtoerusting verwyder wat tot gevolg gehad het dat haar noodvalskerm nie gewerk het nie. Cilliers is in aanhouding en sal op 15 Junie gevonnis word.

Volgens die staat het Cilliers skuld van £22 000 (ongeveer R366 000) gehad en geglo ʼn lewensversekeringspolis van £120 000 sou in sy guns uitbetaal word as Victoria sou sterf.

Tydens die verhoor van ses weke is daar gehoor dat Cilliers buite-egtelike verhoudings gehad het met Stefanie Goller, wat hy op Tinder ontmoet het, asook met sy eksvrou, Carly Cilliers. Hy was ook met verskeie prostitute in verbinding.

Cilliers en Victoria is in September 2011 in Kaapstad getroud. Die egpaar het twee kinders saam gehad en die jongste was net ʼn paar weke oud toe Victoria die valskermsprong gedoen het.

Cilliers het in Ermelo grootgeword. Sy ma was ʼn onderwyseres en sy pa ʼn ingenieur. Hy het volgens berigte ook twee kinders by ʼn Suid-Afrikaanse vrou sowel as twee kinders saam met sy eksvrou, Carly.

Cilliers het glo ʼn seksverslawing en het by verskeie geleenthede naakfoto’s van homself op webwerwe geplaas en ontmoetings probeer reël met enkelvroue en paartjies.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Amelia ·

Eish en hy lyk na n baie aantreklike man. Hoe raak n mens so?

Johan ·

Lees Rebecca Brown se boeke, dan sal jy weet hoe raak mens so. Kry sy ouers baie jammer en al die onskuldiges geraak deur sy dade.

Driekie ·

Amelia. Dit is juis die aantreklike manne (en vroue) wat hierdie tipe probleme het….

Genieve ·

Geld is die wortel van die kwaad..hy nou moet hy daarvoor boet.

Ander Annie ·

Hy moet diep gebêre word vir sy dade, onder andere ketoolsgeit. Ek hoop die pragtige Victoria herstel volkome en baie sterkte aan elkeen van sy familie wat deur sy wandade moes lei. Ek kan net dink hoe seer sy Moeder se hart moet wees.

Denise ·

Nee wat hy het n groot probleem en is gevoeloos verby siek !!!

GM ·

As hy weet hy het ‘n probleem, hoekom trou? En om jou vrou te probeer vermoor, en dit nog terwyl jul baba klein is, is verby siek.

Veritas ·

Skei kos geld. Moord kan polisse laat uitbetaal. Maak sin. Net eers seker maak wie is my vrou se begunstigde en dan kan die valskermklub dalk ‘n nuwe lid bykry.

Marthie Armstrong ·

Ai Maroela – is dit verkeerd om te verwag dat wanneer ‘n opskrif lees “….hoor sy lot… ” dat die vonnis vir sy dade bekend gemaak sou word in die nuus-greep en nie net dat hy skuldig bevind is en niks oor sy “lot” word genoem nie?? Misleidend ?

Yankee ·

Ag Marthie, jou stelling is misleidend. Vonnis nog nie opgele.

Magaretha van heerden ·

Ons woon in England en wat n skok om te hoor die ou is n Suid Afrikaner! Ons veg om SA se naam hoog te hou en nou dit. Hier het hulle gelukkig nie gese waar hy vandaan kom nie. Hy is n skande vir ons. Hoop hy sit vir ewig!

jaco ·

nogal ironies dat hy seker maar SA verlaat het oor al die misdaad hier en toe pleeg hy nogal n tipies Suid-Afrikaanse misdaad in ‘n land waar daar amper niks misdaad is nie…

T ·

Die arme man kort bevryding. Anders sal sy dade nie ophou nie…

Andre ·

Ja-nee, snip-snip… sal baie probleme oplos. Net jammer dis 6 kinders te laat!

Driekie ·

@ wraggies. Dit gaan hier duidelik oor die (hoop op) uitbetaling van haar polis …

Cherokee ·

Hy het in Ermelo groot geword. Nou dink ek niks meer van Ermelo nie!
.
.
.
.
.
.
.
Skuus, ek veralgemeen net om snaaks te wees. Ermelo is tops (sonder hom)!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.