SA man in Tanzanië vermoor

Wayne en Inge. Foto: Facebook.

Wayne Lotter (51), ʼn Suid-Afrikaanse natuurbewaarder en veldwagter, is in Tanzanië doodgeskiet.

Die voorval het Woensdagaand in Masa-ki in Dar es Salaam plaasgevind. Lotter was ʼn medestigter van die Pams-stigting wat gemeenskappe bystaan om wild teen stropers te beskerm.

The Guardian berig Lotter was in ’n taxi op pad van die lughawe na sy hotel, toe sy taxi glo deur ’n ander voertuig voorgekeer is. Twee gewapende mans het glo uit die motor geklim, die deur waarby Lotter gesit het, oopgemaak en hom doodgeskiet. Volgens die berig het Lotter ook al voorheen doodsdreigemente ontvang.

Volgens ʼn verklaring deur die Pams-stigting het Lotter sy lewe daaraan gewy om Afrika se natuurlewe te beskerm. “Eers as veldwagter in Suid-Afrika en toe as jong man wat die stryd teen olifantstropery in Tanzanië gelei het. Hy het in 2009 saam met Krissie Clark en Ally Namangaya die Pams-stigting begin en onverpoosd saam met gemeenskappe gewerk om Tanzanië se natuurlewe te beskerm,” het die verklaring gelui.

Hy het gehelp om duisende verkenners op te lei en sy “intelligensiegebaseerde benadering tot teenstropery het gehelp om die hoë voorvalle van stropery in Tanzanië byna om te keer. Wayne was charismaties en briljant en sy eksentrieke sin vir humor het vir hom die unieke vaardigheid gegee om ander konstant te laat glimlag. Hy het gesterf terwyl hy dapper geveg het vir die saak waaroor hy die passievolste was”.

Wayne en gesin. Foto: Facebook.

Sy vrou, Inge, het op Facebook geskryf: “Forever in my heart – I will always love you and treasure the years we had together. Till we meet again, my Love…”

Azzedine Downes, hoof uitvoerende beampte van die Internasionale Fonds vir Dierewelsyn (IFAW), het gesê Wayne was ʼn avontuurlustige, interessante en flambojante karakter met ʼn humorsin wat skrik vir niks.

“Ek kan onthou my kollegas het een keer die spot met hom gedryf toe hy met ʼn das om sy nek by ʼn funksie opgedaag het. Sy reaksie was om by ʼn vergadering by ons hoofkantoor in Washington DC op te daag met twee dasse, een om sy nek en een om sy kop.”

Buiten sy vrou word Wayne ook oorleef deur sy dogters Cara Jayne en Tamsin Inge, en sy ouers Vera en Charles Lotter.

Die Tanzaniese polisie ondersoek die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

chris ·

ek het n paar jaar gelede saam met wayne in kenia gewerk. ‘n goeie, gemaklike mens en altyd reg vir ‘n grappie. sy toewyding tot natuurbewaring was opreg en begeesterd. mag hy rus in vrede.

Jan ·

Ek is so lief vir Tanzanië. Dit is ongelukkig die laaste tyd vir al die verkeerde redes in die nuus. Hoop iemand net so sterk soos Wayne volg hom op. Duidelik het hy sy werk goed gedoen. Rus in vrede.

Sarie ·

Hulle was ñ pragtige gesin… My innige meegevoel aan sy vrou & dogters…

Lynette ·

Sjoe dit is erg . Jammer dat dit met goeie mense moet gebeur , Innige simpatie aan vrou en kinders . Die skuldiges sal boet

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.