SA man in tronk in Ekwatoriaal-Guinee kry bystand

jail_barsDie departement van internasionale betrekkinge en samewerking sê hy verleen bystand aan Daniel Janse van Rensburg, ‘n Suid-Afrikaner, wat in Ekwatoriaal-Guinee in die tronk is.

“Ons is bewus van die saak en verleen konsulêre bystand aan hom en sy gesin,” het Clayson Monyela, woordvoerder van die departement, gesê.

Die Sunday Times berig dat Janse van Rensburg (49) sedert verlede jaar verskeie kere in die Black Beach-gevangenis was en dat hy nie toegelaat is om die land te verlaat nie.

Dit kom glo nadat ‘n saketransaksie skeefgeloop het.

Monyela het bevestig dat Janse van Rensburg tans in die gevangenis is.

Daar het glo ‘n dispuut tussen Janse van Rensburg en Gabriel Bela Angabi, ‘n sakeman van Ekwatoriaal-Guinee, ontstaan oor ‘n lugvaartkontrak van R30 miljoen.

Janse van Rensburg is in hegtenis geneem nadat hy verlede jaar na Malabo gevlieg het in ‘n poging om die dispuut op te los.

Volgens die berig eis Angabi R1 miljoen van Janse van Rensburg.

Janse van Rensburg se gesin het aan die Sunday Times gesê dat hulle nog nie weer van hom gehoor het nadat daar op 3 Julie ‘n brief aan sy Suid-Afrikaanse sakevennoot gestuur is nie.

Janse van Rensburg sê in die brief dat hy malaria en tifuskoors in die tronk opgedoen het.

Victor Manuel Ela Ela, ‘n sekretaris by Ekwatoriaal-Guinee se ambassade in Pretoria, sê intussen Janse van Rensburg sal toegelaat word om die land te verlaat wanneer die dispuut opgeklaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VerVanRyn ·

Donker Afrika met ‘n moontlike Islamitiese skynsel…Janse van Rensburg gaan sukkel om daar uit te kom…

Elize ·

‘n Mens moet baie desperaat wees om daar sake-transaksiesaan aan te gaan en dalk sommer net plein stupid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.