SA man kry borg in Botswana

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Suid-Afrikaanse man wat vroeër in Botswana skuldig bevind en gevonnis is vir dwelmhandel, is op borg vrygelaat nadat hy appèl aangeteken het.

Dewald Steyn de Beer is twee weke gelede in ʼn landdroshof tot twee jaar tronkstraf gevonnis waarvan een jaar opgeskort is. De Beer is daaraan skuldig bevind dat hy efedrien in die land ingesmokkel het. Die hof het gehoor dat De Beer op 17 Oktober in Botswana aangekom het. Hy het aan die lughaweowerhede gesê sy bagasie is in Kenia agtergelaat.

De Beer is op 18 Oktober by ʼn winkelsentrum in Gaborone in hegtenis geneem nadat daar inligting ontvang is oor dwelms in sy bagasie. De Beer is na die lughawe geneem waar hy sy bagasie moes identifiseer. Daar is 9,6kg se efedrien in sy bagasie gevind waarna hy skuldig bevind en gevonnis is.

De Beer het egter nadat hy sowat drie weke tronkstraf uitgedien het, ʼn aansoek voor ʼn hooggeregshof gebring waarin hy gevra het om op borg vrygelaat te word hangende die appèl teen sy vonnis. Regter Sigh Walia het gesê die laer hof het foute gemaak in sy uitspraak.

Walia het sy kommer uitgespreek oor die moontlikheid dat De Beer ʼn gevaar vir homself en ander kan wees aangesien hy skisofrenies is. Hy gebruik medikasie vir sy toestand. “Ek neem kennis dat die regter foute gemaak het met die vonnisoplegging van die beskuldigde, maar wat van sy toestand en waar gaan hy bly terwyl hy op borg uit is,” het Walia gevra.

Volgens Walia verdien De Beer nie ʼn swaar straf nie aangesien hy ʼn eerste oortreder is, hy skuldig gepleit het en sy aksies geen skade aan die gemeenskap aangerig het nie.

Walia het De Beer op voorwaardelike borgtog vrygelaat. De Beer moes 2 500 Pula (net meer as R3 000) betaal en sy reisdokumente inhandig as deel van sy borgvoorwaardes. Hy moet twee keer ʼn week by ʼn polisiestasie aanmeld en mag nie Gaborone verlaat sonder om die owerhede in kennis te stel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.