SA-man met korona ‘vorder goed’

Argieffoto ter illustrasie

Die 38-jarige man van KwaZulu-Natal wat positief getoets het vir die nuwe koronavirus of Covid-19, is in die Grey’s-hospitaal in Pietermaritzburg opgeneem en is “nie baie siek nie”. Só het Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Vrydag tydens ʼn perskonferensie gesê.

Mkhize het die media by Cowan House Prepatory in Hilton, ʼn gegoede buurt in die KwaZulu-Natalse Middellande, toegespreek. Die skool is Vrydag gesluit nadat die pa van twee van die leerders aan dié skool positief getoets het vir die koronavirus. Die man en sy vrou het Sondag op die King Shaka- internasionale lughawe geland ná ʼn vakansie in Italië. Sy vrou en kinders, sowel as die dokter wat hom vandeesweek behandel het, is ook almal in kwarantyn. “Die kinders toon nie simptome van die Covid-19-virus nie,” sê Mkhize.

Volgens Mkhize het die man griepsimptome getoon en is Dinsdag na sy huisdokter in Hilton, dr. Robyn Reed. Reed het die man getoets vir koronavirus en die resultate het Woensdag gewys dat hy positief getoets het.

Reed en haar kollegas is intussen onder kwarantyn in hul huise geplaas. Sy het vroeër aan die media gesê dat sy telefonies in kontak met die pasiënt en sy familie was en dat die man goed vorder. Sy het ook inwoners van Hilton aangeraai om nie paniekbevange te wees nie.

Mkhize het ouers van die skool vroeër die dag tydens ʼn geslote vergadering toegespreek en gesê dat hulle nie alleen is nie. Hy het ook gesê dat sy departement gereed is om enige gevalle van infeksie op te spoor en te hanteer.

Grey’s-hospitaal is een van vier aangewese hospitale in KwaZulu-Natal wat gereed is om korona-pasiënte te behandel. Die ander is die Addington-hospitaal in Durban, die Ngwelezane-hospitaal in Empangeni en die Manguzi-hospitaal aan die Noordkus.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Zacahara ·

Jip, strongs daar. Ons glo dat alles goed sal verloop en hy gou weer gesond gaan wees.

Strandloper ·

O kriek…dit is n staats hospitaal…Hoop regtig hulle is in staat om die virus hok te slaan. Sterkte daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.