SA man sterf aan Lassakoors

Argieffoto (Foto: Unsplash)

’n Suid-Afrikaner wat gereeld na Nigerië reis, is Donderdag met Lassakoors gediagnoseer en het sedertdien aan dié virus omgekom.

Sinenhlanhla Jimoh, woordvoerder van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), sê die man het siek geword toe hy na Suid-Afrika teruggekeer het van sy reis na Nigerië. Hy is in ’n hospitaal in Pietermaritzburg opgeneem.

“Lassakoors is by die man geïdentifiseer nadat laboratoriumtoetse deur Nios uitgevoer is,” bevestig Jimoh.

“Daar is nou pogings om almal wat met die man in aanraking was, op te spoor en dié gevalle te monitor.”

Geen sekondêre gevalle is tot dusver aangemeld nie.

Volgens Nios is Lassakoors ’n virusinfeksie wat endemies is aan Wes-Afrikalande en meestal aangemeld word in lande soos Sierra Leone, Liberië, Guinee en Nigerië. Lassakoors word minder gereeld aangemeld in Mali, Burkina Faso, Ghana, Togo, Benin en die Ivoorkus.

Tot 300 000 gevalle van Lassakoors, met ongeveer 5 000 sterftes, word jaarliks ​​in die endemiese lande aangeteken. Daar is tans geen entstof vir dié virusinfeksie nie.

“Die natuurlike gasheer van die virus is ’n knaagdierspesie, die multimamma-rot, en dit kom algemeen voor in huise en ander gebiede waar ’n voedselbron gevind kan word. Die virus kom in hul urien en ontlasting voor. Mense kan in aanraking kom met die virus deur direkte kontak of inaseming van die virus in gebiede wat besmet is.”

Nios dui daarop dat mens-tot-mens-oordrag van die virus nie maklik voorkom nie en die virus word nie deur toevallige kontak versprei nie.

“Mens-tot-mens-oordrag is nie algemeen nie, en word meestal verbind met die hospitaalomgewing waar gesondheidsorgwerkers kontak het met die besmette bloed en liggaamsvloeistowwe van ’n pasiënt.”

Gevalle van Lassakoors by reisigers wat van endemiese lande na Suid-Afrika terugkeer, word soms aangemeld. Lassakoors is in 2007 laas in Suid-Afrika gediagnoseer.

Daar is in Februarie vanjaar ’n ingevoerde geval van Lassakoors met sekondêre gevalle in die Verenigde Koninkryk (VK) geïdentifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.