SA man sterf in Angola: ‘Ons onthou al die mooi herinneringe’

Ronel Theron en Jacques Lombaard (Foto: Verskaf)

ʼn Man van Struisbaai in die Wes-Kaap is een van die sewe mense wat verlede week gesterf het toe ʼn vliegtuig naby Cuilo in Angola neergestort het.

Jacques Lombaard (49), wat vir die Somiluana-myn in Angola gewerk het, was op die vliegtuig wat van Dando na Luanda op pad was toe dit neergestort het. Volgens Ronel Theron, Lombaard se vrou, is daar kontak met die vliegtuig verloor net 15 minute nadat dit opgestyg het.

ʼn Soektog na die vliegtuig is van stapel gestuur en die wrakstukke is Saterdag opgespoor. Al sewe insittendes het in die ongeluk gesterf. AP berig die ander oorledenes is ʼn Portugese brandbestryder en vyf Angolese burgers.

Volgens Theron word die oorsaak van die ongeluk nog ondersoek, maar word daar vermoed dat die vliegtuig ys tussen die wolke getref en dat dit ʼn brand veroorsaak het. ʼn Volledige ondersoek, waarby Suid-Afrikaanse owerhede ook betrokke is, word egter nog gedoen.

Lombaard en Theron sou volgende maand hul eerste huweliksherdenking gevier het. “Ons was nog nie lank getroud nie, maar ons het mekaar al sewe jaar lank geken,” het sy gesê. Sy vertel dat Lombaard, wat ook voorheen lank in die weermag was, die afgelope jaar in Afganistan, Pakistan en Tanzanië gewerk het en dat hulle dus gewoond was aan lang afstande en tye weg van mekaar.

“Ons het eers in Wellington gebly, maar dit was ons droom om eendag af te tree in ʼn huisie by die see. Vyf jaar gelede het ons besluit om sommer nou al daardie huisie te kry en toe het ons Struisbaai toe getrek,” vertel sy.

Sy vertel dat Lombaard vir ʼn maand lank by die huis was voordat hy vroeg in Oktober weer teruggekeer het na Angola. Daar het hy glo malaria opgedoen en is hy in ʼn kliniek by die myn opgeneem, voordat hy na ʼn kliniek in Dando oorgeplaas is. Die vliegtuig was Donderdag op pad Luanda toe waar hy daar in ʼn hospitaal opgeneem sou word toe die ongeluk gebeur het.

Ronel Theron en Jacques Lombaard (Foto: Verskaf)

ʼn Bestuurder van die Trans Hex-groep het Theron Donderdag in kennis gestel dat die vliegtuig vermis word en later het sy die nuus ontvang dat daar geen oorlewendes is nie.

“Jacques was vir so klein tydjie deel van my lewe en tog was hy my alles. Hy was net so ongelooflike mens met ʼn skerp sin vir humor. Vir elkeen wat Jacques Lombaard ontmoet het, was dit ʼn voorreg om hom te ken,” sê sy.

Sy vertel in die paar jaar wat hulle deel is van die gemeenskap in Struisbaai, het Lombaard vinnig in die ander inwoners se harte ingekruip en ʼn “legende” in die dorp geword. “As ek so luister na alles wat almal oor hom sê, weet ek watter impak hy op ander se lewens gehad het. Ek vat dit nou maar dag vir dag. Niks wat ek nou doen kan die uitkoms verander nie. Eintlik is dit so wonderlik om nou oor hom te praat, want ons lag en ons huil en ons onthou al die mooi herinneringe. Hy was net amazing.”

Ronel Theron en Jacques Lombaard (Foto: Verskaf)

Theron vertel Lombaard het graag gedigte geskryf wat sy vir hom in ʼn bundel versamel het. Volgens haar is ʼn gedig wat Lombaard vir een van sy vriende geskryf het, ook ʼn goeie opsomming van hoe Lombaard self onthou sal word: “Jou spore lê diep getrap, jou weë nie net ʼn dowwe voetpad, want so het jy elk om jou in toewyding en liefde omvou,” lui ʼn gedeelte uit die gedig.

Volgens Theron word reëlings tans getref om Lombaard se oorskot na Suid-Afrika terug te bring. Hy sal veras word. ʼn Gedenkdiens word op 4 November in Bredasdorp gehou.

Lombaard word oorleef deur sy ouers van Hentiesbaai, ʼn broer, suster en ʼn 19-jarige seun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frikkie (Nie pienk) ·

Instandhouding is natuurlik, soos hier in SA, oorbodig. My seun werk ook daar op ‘n olieboor en die heli, waarmee hul altyd boor toe gevlieg het, het ook ‘n ruk gelede in die see geval. Gelukkig was hy toe by die huis. Hy het altyd gevrees dat die ding gaan neerstort, want die was so gehawend, dat dit elke keer eers na die 2de of 3de probeerslag kon opstyg.

Ronel Nieuwoudt. ·

Liewe Ronel, Hiermee ons innige meegevoel met die skielike heengaan van jou man en geliefde. Dit moet vreeslik wees om so ‘n boodskap van elders te ontvang en dan nie goeie nuus nie. Glo en vertrou jy sal deur die moeilike tye gaan. Ronel stapmaat by klub

johann louw ·

ons dink aan julle oom Daan daar in Henties , baie sterkte in hierdie moeilike dae

Pierre Lombaard ·

Ongelukkig nie Barend ( in die geval gelukkig nie die professor nie)…hy was al die jare by Telkom/P&T

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.