SA man sterf in Ghana kort ná hy pa word

Nicholas en Dace Udal by hul eersteling, Leo. Foto: Facebook

Nicholas en Dace Udal by hul eersteling, Leo. Foto: Facebook

ʼn KwaZulu-Natalse egpaar is in rou gedompel nadat hul seun in Ghana gesterf het, slegs ses weke ná die geboorte van sy eersteling.

Nic Udal (27) is op 10 September dood kort nadat hy in Ghana aangekom het om aan gespesialiseerde boortoerusting te werk. Nick en sy vrou, Dace, het in Letland gewoon en het enkele weke terug hul babaseuntjie, Leo, in die wêreld verwelkom.

Nic se pa, Gavin Udal, het in ʼn Facebook-inskrywing vertel dat Nick en sy kollega die Vrydagaand (9 September) ʼn kuierplek besoek het waar hulle potspel gespeel en ʼn paar drankies gedrink het. “Terwyl hulle besig was om te speel, het hulle hul drankies sonder toesig gelaat en dit is gedokter,” het Gavin geskryf. Nick en sy kollega is albei die aand deur ander kliënte bewusteloos in die badkamer van die kuierplek gevind en na ʼn hospitaal gehaas.

“Albei is aan asemhalingsmasjiene gekoppel, maar Nic het dit nie oorleef nie. Barry, Nic se kollega, het sedertdien sy bewussyn herwin en herstel geleidelik,” het Gavin gesê. Hy het aan IOL gesê die polisie ondersoek steeds die voorval, maar het reeds vasgestel chemikalieë is gebruik om die drankies te dokter. Nic se beursie en persoonlike besittings is ook vermis.

Gavin het aan SA People gesê hy wil graag Nic se storie met ander deel om as waarskuwing te dien aan ander Suid-Afrikaners wat in Afrika-lande werk en die gevare daarvan om ʼn drankie onbewaak te laat. “As Nic se dood een lewe op hierdie manier kan red, dan is dit een familie minder wat in rou gedompel word,” het Gavin gesê.

Die Udal-egpaar was nie Dinsdag beskikbaar vir kommentaar nie.

“Ons as familie staan bymekaar met ʼn nimmereindigende pad voor ons. Nic is weg, maar hy sal nooit vergeet word nie,” het Gavin op sy Facebook-profiel geskryf.

Nic word oorleef deur sy ouers, sy vrou en seun, asook ʼn broer en suster, Whitney en Daniel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Hoe kan mens vanaf kwaZulu af wees as jy in Letland woon? Mens kan nie op twee plekke tersefdetyd woon nie. Of kan jy.
Innige simpatie en sterkte aan naasbestaandes.

Mariné Lourens ·

Dagsê PJ

Dankie vir jou navraag. Let asseblief daarop dat Nic Udal se ouers in KwaZulu-Natal woon, maar dat Nic saam met sy vrou in Letland gewoon het.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Letland ·

Alle simpatie aan die familie. Is letland Afrikaans vir Latvia?

Cherokee ·

Nederlands naar Engels: Meer gegevens…
1. Letland: • Latvia

ena small ·

Mense gaan werk in Afrika om hul lewens en omstandighede te help verbeter dan word dit gedoen. Is dit nie genoeg dat hulle in Suid Afika insypel en ons mense hier vermoor nie, nou doen hulle dit tot in hul eie land. Wonder of die regeering moeite gaan doen om die skuldiges op te spoor, of gaan die saak “verdwyn”.

Regverdig ·

Dit het met my skoonseun ook gebeur, maar ons weet wie dit was. Ons het hom doodeenvoudig uit ons kring uitgesluit en hulle word nêrens meer uitgenooi waar ons ookal is of kuier nie. Baie sterkte aan die familie. Ons innige meegevoel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.