SA man toets negatief vir ebola

Ebola-virus

Ebola-virus

Die Suid-Afrikaanse man wat van Sierra Leone af teruggekeer het, het negatief getoets vir ebola, het die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) gesê.

“Die pasiënt is in ‘n stabiele toestand in die hospitaal,” het Numbuso Shabalala, woordvoerder van Nios, gesê. “Reisigers wat terugkeer van lande wat deur ebola geraak word, maar geen simptome toon nie, hou nie die risiko in om ander mense the besmet nie.”

Volgens Shabalala loop mense wat in die kleinhandel-, veiligheid- en mynbou-industrie in Guinee, Sierra Leone en Liberië werk nie die gevaar om met ebola besmet te word nie. Slegs diegene wat met bloed, ontlasting, braaksel en besmette mense werk sonder die nodige beskerming kan moontlik met ebola besmet word.

Lucille Blumberg, adjunkdirekteur van Nios, het vroeër die week gesê die Suid-Afrikaanse man wat as ʼn vlootbestuurder in Sierra Leone gewerk het, het angstig geraak met sy terugkeer en is verwys na die Addington-hospitaal in Durban.

Volgens Blumberg het die man egter nie hospitaal toe gegaan nie, aangesien daar geen aanduiding was dat hy moontlik met die ebola-virus besmet is nie.

Die vakbond Hospersa het in ‘n verklaring gesê dat ‘n pasiënt wat ebola opgedoen het, uit die hospitaal “gedros” het. “Hospersa het van verskeie paniekbevange lede by Addington-hospitaal verneem dat toetse bevestig het dat die pasiënt ebola het en dat hy gister [Woensdag] uit die hospitaal verdwyn het,” het ʼn woordvoerder van die vakbond gesê.

The Star het Donderdag berig dat ʼn pasiënt wat vermoedelik ebola het, in die hospitaal opgeneem is. Die koerant het glo aan Sibongiseni Dhlomo, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, gevra of ʼn bloedmonster geneem is, aangesien daar vermoed word die man het ebola, waarop hy geantwoord het, “Yebo” [ja].

Klik hier vir vorige berigte oor ebola.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.