SA man vas in Alaska ná hy glo moor en dit verfilm

Brian Steven Smith tydens sy hofverskyning. Foto: (Loren Holmes/Anchorage Daily News via AP)

ʼn Suid-Afrikaner is in Anchorage in Alaska in hegtenis geneem nadat ʼn geheuekaart in ʼn woonbuurtstraat opgetel is en daar op video’s en foto’s afgekom is wat glo wys hoe hy ʼn vrou vermoor.

Brian Steven Smith (48) het Woensdag vlugtig in handboeie en ʼn geel tronkoorpak in die Anchorage-distrikshof verskyn op aanklag van moord.

Smith is Dinsdag by die Ted Stevens- Internasionale Lughawe in Anchorage in hegtenis geneem. Volgens die polisie het ʼn reeks vreemde gebeure tot Smith se inhegtenisneming gelei.

Beamptes van die Anchorage-polisie is op 30 September na die Fairview-woonbuurt ontbied nadat ʼn inwoner ʼn geheuekaart in die straat opgetel het.

“Die SD-kaart het verskeie video’s bevat wat blyk te wees van die aanranding en die daaropvolgende moord op ’n volwasse vrou,” het die polisie in ʼn verklaring gesê. Op 2 Oktober is die polisie na ʼn toneel langs die Seward-hoofweg ontbied nadat menslike oorskot gevind is.

Daar is deur verdere ondersoek vasgestel dat die oorskot wat gevind is, dié is van die vrou in die video. Dit is ook vasgestel dat die misdaad in die eerste week van September in Anchorage plaasgevind het.

Die toneel waar die menslike oorskot gevind is. Foto: (Bill Roth/Anchorage Daily News via AP)

Volgens die Anchorage Daily News is Smith as ʼn verdagte geïdentifiseer aangesien polisiebeamptes hom glo in die video’s kon herken. Hy was glo voorheen by ʼn ander ondersoek betrek. Daar is geen verdere besonderhede oor die vorige ondersoek bekend gemaak nie.

Volgens die berig was daar 39 foto’s en 12 video’s op die geheuekaart. Dit wys glo onder andere hoe ʼn kaal vrou op die vloer van ʼn hotelkamer aangerand en gewurg word. Die vrou het glo verbete probeer terugveg. Daar is glo ook bewyse dat Smith die betrokke aand ʼn hotelkamer bespreek het en selfoonrekords plaas hom glo ook naby aan die moordtoneel.

Die oorledene se identiteit is nog nie vasgestel nie en ʼn nadoodse ondersoek word gedoen om die presiese oorsaak van haar dood te bepaal.

Volgens Smith se Facebook-profiel het hy in 2014 na Anchorage verhuis en is hy oorspronklik van Queenstown in die Oos-Kaap.

Openbare rekords wat deur die Anchorage Daily News bekom is, wys dat Smith ʼn huis in die Geneva Wood-woonbuurt besit. Volgens sy Facebook-profiel is hy ook in 2014 getroud.

Die polisie was Dinsdag vir ure by die huis waar Smith saam met sy vrou gewoon het, aldus die berig. Sy vrou word nie by die moord betrek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

37 Kommentare

jongste oudste gewildste
Besem

Dit is ook ‘n riem onder die hart dat sulke mense Suid Afrika verlaat, hou hom maar in Alaska.

Yankee

Genade!! Al wat ek kan se.

O Wee

Hy was te lank deel van die SA.

Onnie

Die feit dat hy dit verfilm het, wys jou net hoe siek hy regtig is.

Gaitsigubib

Ek dink hy het geweld aangeleer in die VSA, die reeksmoordenaar hoofstad van die wereld. Seker bang hy voel uit.