SA man vas vir moord in VSA

boeie

(Argieffoto: SA Polisie)

’n Suid-Afrikaner is een van drie mense wat in die VSA van moord aangekla word nadat ’n man van die Amerikaanse deelstaat Virginia verlede maand na bewering met dwelms ingespuit en later dood is.

Anthony Angelo Theodorou (33), ʼn Suid-Afrikaner, word saam met Amanda Leigh Hovanec (35) van Ohio en dié se ma, Anita Marie Green (61), van die moord op Timothy Hovanec (36) aangekla. Timothy is Amanda se vervreemde man.

Luidens die Auglaize County se hofstukke het Amanda haar man na bewering met ’n “oordosis sintetiese opioïed” ingespuit met die doel om hom te vermoor. Theodorou het luidens die hofdokumente die dwelms aan Amanda verskaf.

Mike Vorhees, sheriff van Auglaize County, sê in ’n verklaring Timothy het Ohio vir familiesake besoek toe hy verlede Dinsdag as vermis aangemeld is. ’n Ondersoek is gelas en sy liggaam is verlede week in ’n landelike gebied van Auglaize County opgespoor.

Amanda Hovanec, Green en Theodorou is intussen in hegtenis geneem en tans in aanhouding by die Auglaize County-gevangenis.

Borgtog is vasgestel op $2 miljoen (sowat R32 miljoen) elk.

Amanda het Timothy in Desember 2020 vir ʼn egskeiding gedagvaar. Sedertdien het ʼn toesigstryd oor die egpaar se twee jong kinders voortgeduur.

Luidens hofstukke het Amanda die hof versoek om Timothy se regte om die kinders te sien van hom te ontneem, maar die hof het haar versoek geweier.

Timothy het op sy beurt Amanda daarvan beskuldig dat sy hofbevele oor sy besoekregte oortree het. Die hof het Timothy gevolglik toestemming gegee om van 22 April tot 24 April saam met sy kinders te kuier.

Die hof het ook beveel dat Timothy later vandeesmaand die kinders “se inwonende ouer en wettige voogd” moet word. Luidens die hofbevel sou Amanda toegelaat word om die kinders in Virginia te gaan besoek tydens die Amerikaanse somer.

Bronne: WFTV, WHIOTV

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Misky ·

Hoor net daardie bedrag vir borg. Dit maak mos sin en as jy nie daai tipe geld het nie (of jou huis of eiendom as sekuriteit), bly jy in aanhouding tot saak voorkom. Nie soos hier waar jy R500 betaal en dan jouself uit die voete maak en nooit weer opgespoor word nie. Vir daai klas van geld, maak jy seker jy daag op vir die verhoor anders verbeur jy dit.

Swerwer ·

Waarom is volwassenes so haatdraend teenoor mekaar, dit is die arme kinders wat daaromder ly.

Henri ·

“Timothy het op sy beurt Amanda daarvan beskuldig dat sy hofbevele oor sy besoekregte oortree het en net verlede week het die hof Timothy toestemming gegee om van 22 April tot 24 April saam met sy kinders te kuier.”

Is die berig oud of die hof stadig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.