SA man verdwyn spoorloos by lughawe in Indië

Dhramalingum Pillay (Foto verskaf deur Rusa)

Die familie van Dhramalingum Pillay (69) bied ʼn beloning aan vir enige inligting ná hy tydens ʼn vakansie in Indië spoorloos verdwyn het.

Reaction Unit South Africa (Rusa) is Vrydagoggend in kennis gestel dat ʼn beloning van 50 000 roepees (byna R11 000) uitgereik is vir enige inligting wat kan help om Pillay op te spoor.

Pillay, oorspronklik van Tongaat in KwaZulu-Natal, was sedert 20 Januarie 2023 met vakansie in Indië saam met sy 35-jarige dogter. Hulle sou op 31 Januarie na Suid-Afrika teruggekeer het.

Pillay het egter spoorloos uit die internasionale lughawe in Mumbai verdwyn.

“Die man het verdwyn toe sy dogter aan die slaap geraak het terwyl hulle by die Chhatrapati Shivaji Maharaj- internasionale lughawe vir die vliegtuig gewag het. Sy paspoort, visum en ander reisdokumente was steeds in sy dogter se besit,” het Prem Balram, woordvoerder van Rusa, in ʼn verklaring gesê.

ʼn Familielid het Rusa op 3 Februarie gekontak vir hulp omdat pogings om hom op te spoor, tot in daardie stadium onsuksesvol was.

“Ons verneem hy het ʼn geskiedenis van demensie. Sy dogter het in Indië agtergebly en is in gesprek met die Indiese owerhede in Mumbai.”

Die soektog was tot dusver onsuksesvol.

Die Indiese konsulaat in Durban het op 7 Februarie kontak gemaak met Rusa om ook hulp aan te bied. “Kommunikasie tussen die familie en die ambassades in beide lande duur voort.”

Rusa vra dat hulle plasing met vriende in Indië gedeel word in ʼn poging om Pillay op te spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.