SA man voel glo sleg kort voor dood in VSA

Gerrit Strydom. Foto: Verskaf

Gerrit Strydom. Foto: Verskaf

Gerrit Strydom (45), een van die twee mans wie se liggame net meer as ʼn week gelede in ʼn hotel in Springfield in die Amerikaanse deelstaat Missouri gevind is, het glo kort voor sy dood aan sy vrou gesê hy voel nie lekker nie.

Die liggame van Strydom en James Bethel (44) is onderskeidelik verlede Saterdag in afsonderlike kamers by die La Quinta Inn gevind. Die polisie in Springfield het in ʼn verklaring gesê die voorlopige uitslae van die nadoodse ondersoeke wys geen tekens van vuilspel nie.

ʼn Familievriend van Strydom het intussen aan Maroela Media gesê Strydom het die week voor sy dood vir sy vrou gesê hy en Bethel voel nie lekker nie en dat hulle ’n dag langer in Springfield gaan bly. “Sy het van die Saterdag af gesukkel om hom in die hande te kry.” Volgens die vriend het Strydom drie kinders wat saam met hul ma in Zambië woon. Strydom en Bethel het met motorfietse op Amerika se bekende Roete 66 gereis.

The Guardian berig intussen dat Strydom die hoofbestuurder van Eurasian Natural Resources Corporation (ENRC) se filiaal Congo Cobalt Corp in die DRK was. Bethel was tot einde September hoof van ENRC se koper- en kobaltbedrywighede in die DRK. Hy het glo hierna sy eie onderneming begin.

Volgens The Guardian se berig is ENRC baie omstrede en het die myngroep in November 2013 van die Londense aandelebeurs gedenoteer. Die drie stigters van die maatskappy en die Kazakstanse regering het glo besluit om dit ʼn private maatskappy te maak. Die maatskappy is glo ook by bewerings van bedrog, korrupsie en omkopery betrek.

Die polisie in Springfield het intussen toksikologieverslae in sy ondersoek na Strydom en Bethel se dood aangevra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.