SA man wat oorboord val ‘na veiligheid gebid’

Erastus Beukes (Foto: Facebook)

’n 22-jarige Suid-Afrikaner het homself “na veiligheid gebid” nadat hy oorboord geval het in die Stille Oseaan.

Hugo Hattingh (31) was saam met Erastus (Ras) Beukes (22) en Mark Oknienski (42) van Singapoer op ʼn seiljag na Nieu-Seeland onderweg toe die voorval op 13 September plaasgevind het.

“Die weer was pragtig, daar was amper geen wind nie en die see was stil,” het Hattingh gesê. “Ons het almal gou om 10:30 bymekaar gekom om ons roete te bespreek. Ras het net klaar wasgoed gewas. Ons almal was baie ontspanne.”

Hattingh het na binne gegaan om te rus en Mark het kort daarna dieselfde gedoen terwyl Ras besig was om sy wasgoed op te hang.

“Teen 11:30 is ek buitentoe om te kyk of alles nog reg is. Ek het nie vir Ras gesien nie. ʼn Onheilspellende gevoel het by my opgekom, en ek het begin roep na Ras. Ek het in al die kajuite gaan kyk, maar kon hom nie opspoor nie.

“Op van my vorige seevaarte het die bemanning grappe gemaak deur te maak asof hulle verdwyn. Ek het geskree: ‘Ras, as jy hier iewers wegkruip gaan ek jou bl****m!’”

Hattingh het toe vir Oknienski ingelig dat Ras oorboord is. Al die noodgeval-protokol is uitgevoer en hulle het vir Ras begin soek met ʼn verkyker.

“My onmiddellike reaksie was om terug te gaan op die roete waarmee ons gekom het. Ek het vir Mark gevra wanneer laas hy vir Ras op die dek gehoor het. Mark het gesê dit was niks meer as 30 minute gelede nie.”

Hattingh het somme gemaak om uit te werk waar hulle vir Ras kan soek, met die seestrome, spoed en rigting waarin hulle gevaar het in gedagte. Hy het op ʼn afstand van 5 km uitgekom wat hulle moet deursoek.

Volgens Hattingh was daar bykans geen hoop om vir Ras te kry nie en die kans om hom lewend te kry, nog minder. “Hy kon sy kop gestamp het toe hy oorboord geval het,” het Hattingh gesê. “Ek het die enjin vol oopgemaak en ons het na Ras begin soek.”

Hattingh en Oknienski het na byna twee uur alle hoop laat vaar, maar toe sien Oknienski iets in die water dobber. Hattingh het nader gegaan en vir Ras aan ʼn omgedopte emmer sien vasklou.

“Hy was baie emosioneel toe ons hom weer op die boot kry. Hy het ons toe vertel wat gebeur het.”

Ras was besig om die wasgoed op te hang toe hy besluit het om die dek met seewater af te spoel. Hy het afgebuk om water met ʼn emmer op te skep, maar die water het hom oorboord geruk. Hy kon darem die emmer by hom hou en het dit omgedop om ʼn boei te vorm sodat hy daarmee kon dryf.

Die geraas van die enjin en die wind het verhoed dat Hattingh en Oknienski sy hulpkrete kon hoor.

“Ras het gesien hoe die seiljag wegseil, en het geweet hy is in die moeilikheid. Hy is ʼn baie gelowige man en hy het geweet hy moet vir ʼn wonderwerk begin bid. Hy het kalm gebly en geglo dat sy gebede verhoor sal word.”

Later het hulle uitgevind dat ander mense, wat in kennis gestel is van die noodgeval, ook begin bid het vir ʼn wonderwerk.

“As ons vyf minute later met die soektog begin het, of as ek die somme verkeerd gemaak het, of as  Mark nie die iets op die horison gesien het nie … as God nie ons gebede verhoor het nie. Ons gebede is deur God beantwoord!”

Die span is tans op pad na Kavieng in Papoea-Nieu-Guinee en het daarna nog ongeveer 25 dae om te gaan voordat hulle hul eindbestemming bereik. “Almal se gemoed is goed en ons is van plan om die seevaart te voltooi.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Gelowige ·

“Roep My aan in die dag van benoudheid. Ek sal jou uitred en jy moet My Eer”.

So werk dit.

Alle Eer aan God wat Sy Woord gestand doen.

TESS ·

Dankbaar vir die boodskap- dit voel baie of ons in ‘n oseaan is met net ‘n emmer wat keer dat ons sink. Mag almal selfs ou Snoefels DIE tipe genade beleef. En die video vd boom- dis ook emmertjie Genade

not in wonderland ·

Sal dit nie so stel nie, eerder die ervare manne het geweet wat om te doen. Hulle is dalk deur God gehelp om die regte ding te doen .

Corrie A2JESUS ·

Snoefels ek glo in gebed. Dink maar wat jy wil. Hierdie was absoluut n wonderwerk. Dankie vir almal wat gebid het. Dankie Here.

christa ·

Alle lof en eer kom Hom toe. As jou naam in die Boek van die Lewe geskryf is, is jy veilig. Hy sal Sy kinders beskerm en satan het geen houvas op hulle nie. Amen

Dean ·

#Snoefels…Slegs genade deur gebed het hom gered..hy leef..dis al wat tel.

Jaco ·

Wys julle, alles sal regkom met gebed, hou net aan bid vir ons land en alles sal weer wees soos die land van melk en heuning. Suid Afrikaners worry en is verniet so paranoid oor die toekoms , bid net!

Elana ·

Dis my boetie daai, maak nie saak wat enige iemand se nie – as hy alleen gebid het was dit genoeg – eks baie dankbaar dat hy veilig is!!!

Dean ·

Amen Elana…wat n getuienis kan hy nie nou uitdra nie..baie baie bly jou boeta is veilig..

Wilma ·

So dankbaar saam met julle, alle Eer aan Jesus, hoorder van die gebed!

Johan van Zyl ·

Psalm 50 vers 15
“Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”
Dit is so eenvoudig. Ras het in benoudheid verkeer, God het hom uitgehelp en nou eer hy Hom.

Ann ·

Klink my nie jy glo in die krag van gebed nie. Was jy nog nooit in ‘n situasie waar jy nie geweet het of daar uitkoms is nie? Mens kry uitkoms en genade – op jou knieë.

simone ·

Alle eer aan God! Gebede word verhoor. Ek is so bly hy is veilig!

christa ·

Daar is baie dinge waaruit ons God ons uithelp, ons aanvaar dit net “vanselfsprekend” Hy het Sy wakened oog oor al Sy kinders. Gebed verander sake

Al ·

Aan God al die eer! Ñ Groot getuienis van ñ groot gelowige. Baie bly jy is veilig! N Lekker stukkie positiewe nuus wat ons almal hoop gee vir die daaglikse uitdagings.

Johan ·

Pragtige getuigskrif van hoe gelowiges met ‘n persoonlike verhouding met God hulle geloof LEEF.

Esmarie ·

Laat my dink aan John Newton wat Amazing Grace geskryf het, hy was ook uit op see en was vasgevang in ‘n baie groot storm, die boot het ‘n gat in gekry en was besig om te sink, hy het toe uitgeroep na God om hulle te help, die vrag op die boot het geskuif tot waar dit die gat toegemaak het en hulle kon toe vaar tot hulle veiligheid. Hy het eers werklik begin glo in God na die insident en het toe Amazing Grace geskryf.

Chris ·

Dit is n wonderlike storie wat ware waagmoed en geloof nodig gehad het. Ras het krag geput uit sy gebede en geglo God gaan n wonderwerk bewerkstellig. Hugo het vernuftige seemanskap aan die dag gele en natuurlik het God die gebede in SA aangehoor. Dit is n absolute wonderwerk. Trots op die twee Suid- Afrikaners!

Steven ·

Seker nog selfies probeer neem, mens val nie net sommer oorboord nie.

Chris ·

Duidelik was jy nog nie op n seiljag nie. Dit het vlgns kaart in Sondag se Rapport etlike kilometers van enige land gebeur. As jy ooit op n maandelange vaart op n seiljag sal jy weet wat is n ware adrenalien sport. Tyd vir selfies? Gmfff!

Chris ·

As enige persoon nog twyfel, jammer vir jou, daar is ‘n lewende liefdevolle God. Hy is, was en sal wees. Soek na Hom voor dit te laat is.

Dewald Kozte ·

Dis die wetenskap en wiskunde met die goeie kop hou van sy maats wat hom gered het .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.