SA man wat oorsee moor weer in hof

Galley (blou hemp) tydens sy inhegtenisname. Foto: Brad Nathanson Investigations/Facebook

Galley (blou hemp) tydens sy inhegtenisname. Foto: Brad Nathanson Investigations/Facebook

Glen Brian Galley, ʼn Suid-Afrikaner wat tronkstraf in die Verenigde Koninkryk uitgedien het nadat hy aan moord skuldig bevind is, het Vrydag in die Pinetown-landdroshof in KwaZulu-Natal verskyn.

Landdros Terence Buthelezi het Galley op borgtog van R6 000 vrygelaat. Galley word daarvan beskuldig dat hy ʼn perdesaal en ʼn kniebord gesteel het.

Galley het aan die hof gesê hy gaan skuld beken op aanklag dat hy die kniebord gesteel het maar nie die perdesaal nie.

Die staat het Galley se borgtogaansoek teengestaan. Staatsaanklaer Adele Clive het gesê Galley was oneerlik met die hof en hy het geen bates of vaste adres nie. Galley het gesê hy is die afgelope drie maande al werkloos en sy verloofde ondersteun hom finansieel.

Volgens Galley het hy nie ʼn geldige paspoort nie en hou hy ook nie ʼn gevaar vir die samelewing in nie. Galley het gesê hy is in April 2014 uit die gevangenis in die Verenigde Koninkryk vrygelaat en na Suid-Afrika gedeporteer. “Ek het my vonnis uitgedien en is vrygelaat.”

Galley het aan die hof gesê hy is gedeporteer nadat hy sy Britse paspoort ingehandig het en hy is meedgedeel hy mag nooit weer na Brittanje terugkeer nie. Galley het tronkstraf uitgedien vir die moord op ʼn 69-jarige pensioenaris toe hy as ʼn taxibestuurder gewerk het.

Sikhona Mchunu, die ondersoekbeampte, het egter gesê hy kon nog nie vasstel hoe Galley Suid-Afrika binnegekom het nie. “Die departement van binnelandse sake het geen rekord van hoe hy die land binnegekom het nie en ons weet nie of hy wettig hier is nie.”

Hy het gesê hy wag steeds om van Interpol en die Britse Hoë Kommissariaat te hoor. Dit het aan die lig gekom dat Galley se broer en ma in Brittanje woon en hy het ʼn dogter. Galley het erken sy verhouding met sy 17-jarige dogter het agteruitgegaan en hulle het nie meer kontak nie.

Mchunu het in die hof beweer Galley het een van die getuies in die saak aangerand voordat hy in hegtenis geneem is.

Buthulezi het egter gesê die staat kon nie bewys Galley is ʼn vlugrisiko nie of dat hy ʼn bedreiging vir getuies inhou nie. Die saak is tot 18 Oktober uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

J. Maree ·

Ek dink as iemand wat moor, steel en getuies aanrand moet ASAP uit die samelewing verwyder word. As so ‘n gewoonte misdadiger reeds ‘n getuie aangerand het, weet ek nie hoe landdros Buthelezi kan beweer daar is nie bewyse dat hy ‘n bedreiging vir getuies inhou nie. As hulle nie eers weet hoe hy die land binne gekom het nie en met Interpol moet skakel, hoe op aarde kan landdros Buthelezi met sekerheid beweer dat hy nie ‘n vlugrisiko inhou nie?

Hasie ·

Die arme man, het seker te perd die land ingekom en soek nou ‘n nuwe saal.

Rapes ·

Galley se ma en broer is in Engeland woonagtig en ek neem aan hy’s ook oorspronklik vandaar so stuur hom terug vanwaar hy oorspronklik kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.