SA matrikulant se punte beste ter wêreld

Jade Reynolds het deur tuisonderrig haarself geleer. (Foto: Verskaf)

ʼn Slimkop van Suid-Afrika, wat deur tuisonderrig haarself een van die moeilikste kurrikulums ter wêreld geleer het, spog nou met van die hoogste punte van alle kandidate wêreldwyd vir twee van haar vakke.

Dít terwyl sy ʼn kurrikulum vir grade 11 en 12, wat normaalweg twee jaar neem om te voltooi, in een jaar klaargemaak het.

Jade Reynolds (19) van Durban het verlede jaar haar Cambridge International-eksamen afgelê en ʼn verbysterende 97% vir rekeningkunde en 98% vir biologie behaal. Dit is die hoogste punte wat enige student wat verlede jaar November die Cambridge-eksamens vir hierdie vakke afgelê het, gekry het.

Reynolds het vir al haar ander vakke ook A’s gekry en het ʼn gemiddeld van 94% losgeslaan.

Sy sal nou die Cambridge International se “Top in the World” -toekenning ontvang vir hierdie prestasie.

Die Cambridge International-eksamen is ʼn toonaangewende kwalifikasie wat wêreldwyd die standaarde van onderrig bepaal.

Die instansie het Reynolds se prestasie aan Maroela Media bevestig.

“Ek het in trane uitgebars toe ek my punte kry,” vertel Reynolds aan Maroela Media.

“Ek het baie hard gewerk om in al my vakke A’s te kry, maar ek het nooit verwag dat ek só goed sou vaar en selfs ‘n toekenning wen nie.

“Ek het my eie doelwitte gestel en stil-stil gewerk om dit te probeer bereik.”

Reynolds het aan die einde van haar gr. 10-jaar by ʼn private skool in Durban-Noord besluit dat die druk en kompetisie by hoofstroomskole haar sal breek.

“Toe ek onder die top-10 akademiese leerders op skool was, was daar soveel druk op my om heeltyd te presteer. Ek is nie ʼn mededingende persoon nie, so die druk vanaf my onderwysers, klasmaats en myself het net te veel geraak.

“Ek wou weer beheer neem en dis presies wat ek gedoen het deur tuis skool te gaan.”

Jade saam met haar ouers Carol en Phillip Reynolds. (Foto: Verskaf)

Sy het besluit om haarself in die finale jare van hoërskool tuis te onderrig – boonop sonder die hulp van haar ouers. Reynolds het gedurende haar gr. 11-jaar Cambridge se IGCSE-kurrikulum voltooi, waarna sy in haar matriekjaar die sogenaamde “A-levels”, wat twee jaar neem om te voltooi, in een jaar klaargemaak het.

“Ek het myself geleer. Ek het ʼn paar private tutors gehad, maar ek het elkeen net vir ʼn uur deur die week gesien indien ek enige vrae oor die werk het,” sê sy.

Hoewel hierdie toppresteerder haar hele lewe lank al goeie punte behaal, was dit nie maklik om self die patroon voort te sit nie.

“Dit was ʼn groot uitdaging, aangesien Cambridge se kurrikulum bekend is daarvoor dat dit baie uitdagend is.

“Jy kan nie net die inhoud vir ʼn Cambridge-eksamen uit jou kop leer en verwag om goed te vaar nie. Byna elke vraag vereis kritiese denke en die praktiese toepassing van jou kennis om probleme op te los.”

Reynolds is egter nie spyt oor haar besluit om skool te verlaat en alleen tuis te leer nie.

“Ek het my vriende en sosiale lewe op skool gemis, maar ek het die prettige dele van skoolbywoning opgeoffer ter wille van my eie welstand.”

Reynolds het sedertdien ʼn beurs aan die Universiteit van Kaapstad (UCT) losgeslaan en studeer nou ʼn graad in sosiale wetenskappe (BSocSci).

Sy hoop om later haar nagraadse studie aan ʼn oorsese universiteit te voltooi en eindelik haar PhD in neurosielkunde te verwerf.

Wanneer sy nie haar neus in die boeke het nie, geniet sy dit om aktief te wees.

“Ek is lief daarvoor om te dans, veral ballet, en ek het nou onlangs ook gekwalifiseer om jogaklasse aan te bied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
JL

Welgedaan.

Nico

Uitstekend gedoen, hou so aan.

Christine

Pragtig en baie geluk, dis ‘n wonderlike prestasie. Tuisonderrig is beslis ‘n roete om te volg omdat die staatsskole net so verval. Kyk net die gemors nou by Jan Viljoen Hoërskool. Ek sal nooit my kind aan daai trauma wil blootstel nie.

AmY

Baie geluk!

Frank John

Goeie kop op jou skouers jong Dame