SA meisie gekeer om by die IS aan te sluit

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Skoolmeisie (15) van Kenwyn is Paassondag gekeer om van Kaapstad na O.R. Tambo internasionale lughawe te vlieg weens die vermoede dat sy ʼn internasionale vlug sou haal om by die Islamitiese Staat (IS) aan te sluit.

David Mahlobo, minister van staatsveiligheid, het bevestig dat die meisie laat Sondagmiddag van ʼn British Airways-vliegtuig verwyder is en erken het dat sy van plan was om by die IS aan te sluit. Die meisie het sakeklas gevlieg. Sy het nege uur voor die vlug uit haar huis verdwyn. Toe haar grootouers haar om 08:00 Sondagoggend vir ontbyt geroep het, het hulle besef sy is skoonveld.

Die polisie en die minister van staatsveiligheid is van haar verdwyning in kennis gestel. “Ons het onmiddellik beamptes by al die lughawens in kennis gestel. Indien ons nie betyds in kennis gestel is nie, sou sy die land verlaat het. Ek het met haar pa en oupa gepraat en hulle is verlig dat sy opgespoor is,” het Mahlobo gesê. Die meisie is weer in die sorg van haar familie vrygelaat.

Bewysstukke wat in haar kamer gevind is, dui daarop dat sy geld oorgeplaas het aan ʼn onbekende bron en dat sy in kontak was met IS-werwers. Die meisie se ouers was met vakansie in Durban en het Maandag na Kaapstad teruggekeer aangesien hulle nie ʼn vlug vir Sondag kon kry nie.

Yusuf Abramjee, die hoof van Crime Line, het gesê die meisie het ʼn vlug na Saoedi-Arabië bespreek. Abramjee en Mahlobo het aan ANA bevestig dat die meisie Maandag met haar ouers herenig is. ʼn Buurman van die gesin het bevestig dat die meisie onlangs aan sy dogter genoem het dat sy dit oorweeg om by die IS aan te sluit.

“’n Ondersoek is aan die gang om te bepaal hoe ver die netwerk strek, of daar ʼn sel in die land is en na die metodes wat vir werwing en finansiering gebruik word. Ons kan nie toelaat dat Suid-Afrika as ʼn werwingspunt gebruik word nie,” het Mahlobo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Goggie Burger ·

Ek sal net bitter graag wil weet waar kry ‘n kind van daai ouderdom daai klas van geld. En hoekom is sy nie saam haar ouers op vakansie nie.?

Katelyn ·

As ek die ouer van die dogter was het ek ook dadelik begin ry huis toe as daar nie vlugte was nie in plaas van om te wag vir die volgende dag.

Paul ·

Katelyn, die ouers was in Durban. Dit neem op die minste sowat 15 uur om vanaf Durban na Kaapstad te ry – waarskynlik beduidend langer met die Paasnaweekverkeer.
Indien hulle 08:00 op Sondag laat weet is, sou hulle, indien hulle dadelik gery het, op die heel vroegste 23:00 die Sondagaand in Kaapstad kon gewees het. Prakties gesproke waarskynlik eers 03:00 of later, indien hulle eers later laat weet is en eers ‘n voertuig moes huur.
Dan is ‘n vlug die Maandag ‘n baie beter oplossing.

Christie Joubert ·

Op 15 hoort jy op die skool banke! Daai boudjies skree vir n ordentlike drag slae..

ladybug ·

Lyk my die kind het hopeloos te veel vrye teuels om te doen wat sy wil. Ouers met vakansie, sy by die huis, en soveel geld om ‘n vlieg kaartjie te koop? As jy my kind was, het jou gat gebrand dat jy vir dae nie kon sit nie! Dit, poplap belowe ek jou!

Jo ·

Het die nuwe wetgewing wat se dat kinders onder die ouderdom van 18jaar saam met beide ouers moet reis, of dat indien daar net een ouer teenwoordig is, moet daar ‘n beedigde verklaring van die ander ouer by al die dokumentasie wees, dan nog nie in werking getree nie?

EMK ·

Weet julle wat KOS ‘n kaartjie in sakeklas? Hoveel geld HET sy as sy eerstens ‘n sakeklas kaartjie kan koop en tweedens nog geld kan oorplaas na ‘n “onbekende bron”? Kinders is baie ontvanklik vir allerhande goed en sy is sekerlik op ‘n manier gebreinspoel om te doen wat sy wou doen. Dan sou hulle haar ook seker oortuig om met ‘n bom aan die lyf vasgegespe êrens in ‘n vol restaurant of winkelsentrum haar ding te gaan doen in die naam van watookal en dat sy reguit hemel toe sou gaan weens haar daad. Dis absoluut skrikwekkend!

Trudy Erasmus ·

Ek sien baie lewer kommentaar omdat die kind so baie geld tot haar beskikking het en omdat haar ouers alleen met vakansie was.

Die geld wat sy betaal het en die feit dat haar ouers nie tuis was nie, is nie die kwessie wat my bekommerd het nie. Die geweld waarmee sommige groepe binne die Islamitiese geloof optree, bekommer my. Hulle tentakels is die wêreld vol. En hierdie groepe slaan soos sampioene op. As ons ons ogies uitvee, is ons almal in die Derde Wêreldoorlog betrokke.

EMK ·

Trudy – dis juis die geld wat sy so tot haar beskikking het wat jou behoort te bekommer – so plaas sy sommer spul geld oor na IS. En dis juis hoekom hulle versprei – onnosel mense word omgepraat om te doen wat sy gedoen het en vasgevang in hul web en so neem hulle oor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.