SA moet ‘klimaatbestand’ begin bou

Daar word groot klem op ekonomiese vooruitgang en maksimum wins geplaas en elke beskikbare stukkie grond word in iets omskep. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Meer as 400 mense is dood. Duisende is dakloos. En dit in ʼn provinsie wat reeds steier onder die uitwerking van verlede jaar se dodelike geweld en plundering én die Covid-19-pandemie wat gevreet  het aan KwaZulu-Natal se ekonomie.

Die verwoestende gevolge van die onlangse oorstromings in die provinsie word stadigaan duidelik en daar is toenemende oproepe dat Suid-Afrika se infrastruktuur herbeplan moet word om sy inwoners teen die uitwerking van ekstreme weersverskynsels te beskerm.

Nagenoeg ʼn kwart van die eThekwini-metro se 3,9 miljoen inwoners woon in 550 informele nedersettings rondom Durban. Minstens 164 van dié nedersettings is op vloedvlaktes gebou en dit was eindelik ook dié inwoners wat die swaarste in die oorstromings getref is.

Prof. Mulala Simatele, ʼn klimaatwetenskaplike verbonde aan Wits se Global Change Institute (GCI) en die Departement Geografie en Omgewingstudies, sê al die modelle dui daarop dat die land op pad is na verhoogde reënval of droogte en dat daar tussen uiterstes beweeg gaan word.

“Ons kan nie verhoed dat rampe gebeur nie, maar ons kan die uitwerking daarvan versag. Die ramp wat nou in KwaZulu-Natal afgespeel het en die omvang van die skade wat aangerig is, moes nooit gebeur het nie; dit moes voorkom gewees het,” sê hy.

Reddingspanne soek na liggame na die oorstromings in KwaZulu-Natal. (Foto: Guillem Sartorio/AFP)

Dít kan net gedoen word deur die inwerkingstelling van proaktiewe beleid. “Daar moet hulpbronne aan planne op papier toegeken word, maar Suid-Afrika sukkel met die toepassing van ʼn beleid.”

Durban was in 2014 die eerste stad in Afrika om ʼn klimaatsveranderingsplan ter tafel te lê. Daarin word uitgestippel dat meer intense reënval en groter erodering, asook ʼn geraamde toename van tussen 30% en 100% in jaarlikse reënvalveranderlikheid, verwag kan word. Meer hittegolwe is destyds al voorspel en dat die seevlak sal na verwagting sal styg.

Verskeie gevare word ook in die plan uitgewys, insluitend skade aan infrastruktuur, ʼn uitwerking op landbou en voedselsekerheid en swakker ekonomiese prestasie.

Dit kon die afgelope twee weke duidelik gesien word.

Dhesigen Naidoo, ʼn senior navorsingsgenoot by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), sê hoewel die stad se klimaatplan as ʼn model vir ander groot metro’s wêreldwyd gebruik word, het die implementering nie gevolg nie.

“In die agt jaar sedert die plan aangekondig is, was daar heelwat herinnerings aan hoekom hierdie ʼn saak van dringendheid is: die oorstromings in 2017 en wéér in 2019. Maar die waarskuwingstekens het gekom en gegaan en toe tref oorstromings KwaZulu-Natal weer.”

Naidoo sê hierdie keer is almal getref – selfs die buurt waar die KwaZulu-Natalse premier woon het deurgeloop. Die vloedwater het voor die voet onder ryk en arm sy tol geëis.

“Die oorstromings was ʼn gelykmaker en gaan dalk ʼn groter oproep tot aksie wees omdat diegene hoër in die hiërargie, politieke beleidmakers en sakelui, persoonlik geraak is.”

Herbesin oor infrastruktuur

Die oorstromings was ʼn gelykmaker en gaan dalk ʼn groter oproep tot aksie wees omdat ryk en arm geraak is. (Foto: Guillem Sartorio/AFP)

Simatele sê infrastruktuur moet as ʼn saak van dringendheid herbeplan word en planne moet opgestel word om water na oseane, riviere en opvangsgebiede te herlei.

“Ons moet beplan vir maniere wat ons sal toelaat om die uitwerking van oorstromings te minimaliseer,” sê hy.

Naidoo stem saam en sê die krisis is ʼn geleentheid om te herbesin, te herbou en ʼn volhoubare toekomspad te vestig; die kans om “iets werklik verstommend te doen”.

Simatele sê sommige van die huise wat in KwaZulu-Natal deur vloedwater weggevee is, is op hoogs kwesbare grond gebou – en die regering laat bouwerk op dié stukke grond toe.

Heelwat navorsing is reeds hieroor gedoen en die plaaslike munisipaliteite is deeglik bewus van watter grond bewoonbaar is en watter nié.

“Pleks daarvan dat ons vleilande in hul natuurlike status hou, bou ons paaie, huise en betonstrukture. Die meeste huise wat verwoes is, is langs vleilande geleë wat as vloedbeheermaatreël moes optree. Sodra ons dít verwoes, sê ons eintlik dat ons die idee van afloopwater verwelkom,” sê Simatele.

“Die regering het ʼn verantwoordelikheid om te verseker ons gee rigting aan waar nedersetting geleë is. Daar is ʼn verpligting om die natuurlike stelsels te beskerm wat vloedwater beheer.”

Naidoo stem saam en waarsku dat daar nie voortgegaan kan word om onverskillig teenoor die klimaat te staan nie. “As die natuur nie ʼn ompad vind nie, bars hy regdeur. Water het geweldige energie, soos jy sien in ʼn hele huis wat fondasie en al meegesleur word.”

Op ekonomiese altaar geoffer

Die verwoestende gevolge word duidelik en daar is oproepe dat Suid-Afrika se infrastruktuur herbeplan sal moet word. (Foto: Guillem Sartorio/AFP)

Daar word groot klem op ekonomiese vooruitgang en maksimum wins geplaas en elke beskikbare stukkie grond word in iets omskep, sê Simatele.

“Ons betaal ʼn duur prys vir die klem wat ons op ekonomiese vooruitgang ten koste van omgewingsgesondheid plaas. Ons moet oorskakel na ʼn ontwikkelingsplan wat die omgewing as ʼn natuurlike hulpbron prioritiseer. Beplanningstelsels en ontwikkelingsroetes moet ooreenstem met omgewingsbeperkings.”

Simatele sê dit beteken dat Suid-Afrikaners ʼn tree terug moet gee en planne aanpas met dit wat die omgewing kan hanteer en steun. “Dán kan ons gebeure soos dié wat ons in KwaZulu-Natal ondervind het, begin vermy. As ons nie versigtig is nie, gaan dit weer gebeur.”

Naidoo sê die heropbouproses moet gebruik word om ook kwessies soos ongelykheid te pak. Die ekologiese voetspoor van die stad moet verklein word, ʼn slimmer stad moet gebou word waar hulpbronne doeltreffend aangewend word, en groen ruimtes moet voortaan deel van die stad vorm nie net om rampe soos die onlangse oorstromings te verhoed nie, maar om ook waarde tot stadsbewoners se lewe te voeg.

“Dink weer oor die stad se voedselsekerheid en stedelike landbou. Dit help met voedselsekerheid en word groen ruimtes wat ʼn dubbele doel dien as plekke om water op te vang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Swerwer ·

Seker ‘n bietjie laat om wakker te skrik en by te kom in die lewe

annie ·

Ons almal lê ok dikwels op ons bed en droom… oor hoe die wêreld dalk kon gelyk het as dit of dat… En dan staan ons op en gaan maak ‘n sterk koppie koffie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.