‘SA moet nuwe Agoa-sperdatum nakom’ – VF Plus

Rob Davies, minister van handel en nywerheid Foto: Departement van handel en nywerheid

Rob Davies, minister van handel en nywerheid Foto: Departement van handel en nywerheid

Die VF Plus sal druk op die Suid-Afrikaanse regering plaas om die nuwe sperdatum rakende die Agoa-handelsooreenkoms met Amerika na te kom.

Maroela Media het vroeër berig president Barack Obama het aangekondig Suid-Afrika het tot 15 Maart tyd om die struikelblokke uit die weg te ruim wat nog in die pad staan van Amerikaanse vleisinvoer na Suid-Afrika. Indien dit nie nagekom word nie, sal die tariefvrye invoer van Suid-Afrikaanse landbouprodukte na Amerika opgeskort word.

Anton Alberts, woordvoerder van die VF Plus, het gesê die party het verwag dat Amerika se geduld sal opraak, gesien in die lig van die voeteslepery van die ANC en Rob Davies, minister van handel en nywerheid, oor die aangeleentheid. Hy het gesê dit wil voorkom of Davies die land se bande met sy tradisionele handelsvennote soos Amerika en die Europese Unie nie ernstig opneem nie.

“Ons ekonomiese welstand en oorlewing word al hoe meer afhanklik van muishondlande soos Kuba en Brics-lande soos Brasilië wat reeds rommelstatus bereik het, Rusland, Indië en China wat eweneens groot ekonomiese probleme van hul eie het,” het hy bygevoeg. “China se markte koel tans vinnig af ten koste van die rand en dit sal daarom ekonomiese selfmoord wees om tradisionele en gevestigde handelsvennote te vervreem.”

Alberts het onderneem om die minister met die eerste geleentheid in Februarie met die sitting van die betrokke parlementêre portefeuljekomitee te vra om hierop te antwoord en om die versekering te gee dat Suid-Afrika by die Agoa-spertyd sal hou.

“Gegewe Suid-Afrika se bestaande probleme soos ʼn ekonomiese inkrimping en ʼn groeiende handelstekort weens verskeie faktore, asook meer onlangse terugslae soos Nenegate, is die land se ekonomie ʼn ontvouende fiasko,” het hy gesê. “Die land kan in hierdie stadium bloot nie bekostig om bestaande handelsvennote te vervreem nie. Alhoewel die swak rand ʼn geweldige skok vir die ekonomiese stelsel is, kan dit steeds tot ons voordeel gebruik word vir uitvoere mits ons handelsvennote soos Amerika het. Daarom is Agoa vir ons belangrik.”

Lees alle vorige berigte oor Agoa op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann Marx ·

WAT is die struikelblokke? Wie struikel daaroor? Ek het orals gesoek op die Internet om te probeer verstaan WAT die eintlike probleem is, en ek kry niks. Miskien is dit maar net hoe dit lyk wanneer ‘n “struggle” organisasie probeer om te regeer….

Fanie ·

Jy sé dit so raak Johann. Goed gesê.
Hulle “struggle” nog die hele pad afdraand!!!

Yvonnen ·

Ek het vanoggend net vlugtig na n gesprek op RSG geluister en dit kom daarop neer dat Amerika wil he dat SA hul regulasies op vleis invoer moet verslap en SA skop vas. Indien SA dit wel doen kan dit beteken dat moontlike besmette vleis ingevoer word.

DPJ ·

Om alles veilligheids maatreëls oorboord te gooi om nie ‘n handels vernoot te verloor nie is besils ook nie gewens nie. Om handels venote nie af te skrik en voete te sleep is ‘n aander saak.

JM ·

“Die mense in ons liewe regering is n klomp elendige sukkelaars,wat veroorsaak dat almal sukkel”
Hulle kan nie eers vir ZUMA in lyn kry nie,hoe gaan hulle die ekonomie reg ruk??Uitvoere sal ons landjie geweldig help, aangesien die wisselkoers nou so sleg is.Eenvoudige somme wat ,lyk my ,ons “leiers” nie kan maak nie , maar nou ja,wie is ek dan nou om te praat…(net nog n belasting betaler wat holrug gery word)

Trolle ·

VF los die USA daar waar hulle is dit is nou die een ding waarmee ek saam stem met Zuma.
Julle behoort te weet die USA is besig met n agenda wat nog meer elende gaan veroorsaak in die land.Julle laat my nou wonder oor julle?

Lynette ·

Trolle moenie twak praat nie. Hier in ons land is die gevaar van kieme optel as jy in n staatshospitaal opgeneem word, baie groter as om siek te word van ingevoerde amerikaanse vleis.

Yvonne ·

Help, Maroela! Ek wou hiwrdie berig op Fbook plak maar dit stuur telkens die vorige berig oor reën! Wat nou?

Sune van Heerden ·

Dagsê Yvonne

Ek kan nie ‘n tegniese fout aan ons kant vind nie.
Probeer gerus om hierdie skakel direk op jou Facebook-blad te plak:
http://maroelamedia.co.za/blog/nuus/sa-nuus/sa-moet-nuwe-agoa-sperdatum-nakom-vf-plus/

En as dit nog steeds nie werk nie, verfris gerus die bladsy (druk die F5-knoppie indien jy op ‘n rekenaar werk) en probeer dan weer.
As dit nog steeds nie werk nie, stel ek voor jy kontak my by [email protected], dan kan ek jou probleem aan die tegniese span stuur.

Ek hoop jy kom reg!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.