SA moet ophou ‘bo sy vermoë leef’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: stevepb, Pixabay)

Die Vryheidsfront Plus het Donderdag tydens ʼn parlementêre debat gesê dat Suid-Afrika moet ophou om bo sy vermoë te leef en meer skuld te maak as wat die land kan bekostig.

Dié debat het onder meer oor die EFF se beroep oor die beëindiging van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF)- en Wêreldbanklenings gehandel.

Die VF Plus meen Suid-Afrika se enorme skuldlas verteenwoordig ’n aansienlike risiko vir die volhoubaarheid van openbare finansies.

“Die koste verbonde aan die rente op staatskuld dwing Suid-Afrika al hoe nader aan die fiskale afgrond.

“Regeringskuld moet bestuur word deur hervormings wat ekonomiese groei gaan stimuleer, besnoeiings in openbare uitgawes, die afskaal van staatsondernemings en die uitroei van korrupsie,” het Jaco Mulder, die VF Plus se woordvoerder oor handel, nywerheid en mededinging, gesê.

Enoch Godongwana, minister van finansies, het verlede maand terugvoer gegee aan die parlementêre staande komitee oor finansies oor ʼn lening van R11,4 miljard by die Wêreldbank.

Die komitee het gesê hy is bekommerd oor die terugbetaling van dié lening en dat die land jaarliks sowat R270 miljard aan terugbetalingskoste bestee – die derde grootste uitgawe op die begroting naas onderwys en maatskaplike dienste.

“Die voormalige minister van finansies, Tito Mboweni, het erken dat Suid-Afrika te veel skuld opgehoop het en dat die Covid-19-pandemie dit nog meer laat styg het. Uit elke rand wat Suid-Afrikaners in 2020 aan belasting betaal het, het 21 sent gegaan om rente op regeringskuld te finansier.

“In Junie 2020 het Suid-Afrika ’n Covid-19-noodlening van $1 miljard van die New Development Bank, die multilaterale ontwikkelingsbank wat deur die Brics-state gestig is, ontvang. Verdere lenings van die Wêreldbank en Afrika‑Ontwikkelingsbank het ook ter sprake gekom,” het Mulder Donderdag gesê.

Mulder sê die regering het hom daartoe verbind om die IMF se finansiële noodhulp vir die Covid-19-pandemie met volle deursigtigheid en aanspreeklikheid te bestuur. Die lening is goedgekeur op grond van die voormalige minister van finansies se aspirasies om hervormings in te stel en die ekonomie beter te bestuur.

“Die IMF was onder die indruk dat die openbare verkrygingstelsel opgeknap is om die swakhede wat staatskaping vergemaklik het, aan te spreek. Tog is daar ’n vlaag bewerings van bedrog en die misbruik van fondse met betrekking tot aankope wat verband hou met die pandemie.

“Dit was feitlik ʼn skouspel van regeringsgesindes en -kaders wat voordeel getrek het uit Covid-19-verwante aankope en kontrakte. Dit is duidelik dat president Cyril Ramaphosa nie die vermoë het om teen institusionele korrupsie op te tree nie.”

Die party meen daar bestaan tereg vrese dat dieselfde kan gebeur met enige nuwe lenings wat die regering aangaan en wat met swaar verdiende belastingbetalersgeld terugbetaal en gefinansier word.

“Die benarde finansiële posisie van Suid-Afrika sal slegs omgekeer word met volhoubare ekonomiese groei en fiskale dissipline.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hasie ·

Mense met 5 tot 6 syfer salarisse kan maklik praat .Hoe leef mens met 4 tot 3 syfer salarisse ? Dink die klomp in die parlement moet wake up call kry en leef soos die mense wat slegs 4 syfer salarisse kry dan sal baie mense se ogies oopgaan wat die regtig aangaan ,

annie ·

Die Mulder-clan lewe lekker op belastingeld sedert die jare toet. Broer Connie was selfs lid van die ANC-regering se ministerskorps + leier van die VFPlus. Om nou by sigselwers te begin is ‘n goeie begin.

mattk ·

Die kaders ken mos van leen en nie terug betaal nie, staan alewig net bakhand om te ontvang.

Philip ·

Sommige mense is totaal oningelig met betrekking tot die VF se bestuur wat veroorsaak dat hulle die klok hoor lui maar nie weet waar die bell hang nie.

Swerwer ·

Die Vryheidsfront Plus moet hul uitlating net regstel, dat dit nie SuidAfrika is nie maar wel die ANC en ander Hooggeplaastes (Politieke Leiers) wat moet ophou om bo hul vermoëns te leef en meer skuld te maak as wat die land kan bekostig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.