SA moet waak teen ‘leë etenstafels’ – VL

(Foto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

As boere nie meer kommersieel kos kan produseer nie, sal die 70% van ons bevolking wat verstedelik is, die harde werklikheid van ‘n leë etenstafel in die gesig staar.

“Stedelike verbruikers maak staat op voedsel van supermarkte of spaza-winkels, en supermarkte en spaza-winkels kry hul voorraad van voedselverwerkers of landboubesighede wat grootmaat landboukommoditeite verfyn en verpak waarvan 99% van kommersiële boere verkry word,” sê Gernie Botha, uitvoerende hoof van Vrystaat Landbou.

Hierdie landbou-waardeketting is aangewese op ‘n goed ontwikkelde en onderhoude nasionale infrastruktuurstelsel om voedsel, vesel en medisinale produkte van landelike na stedelike gebiede en dienste van stedelik na landelike gebiede effektief te lewer.

Botha sê in Suid-Afrika het die veerkragtigheid van die primêre ekonomiese infrastruktuur toenemend ‘n gebied van ernstige kommer geword vir beide die voedselproduksiewaardeketting en die maatskaplike stabiliteit van die land. Die volgende rooi vlae kan lei tot ‘n ineenstorting in die waardeketting wat kos van die plaas na die etenstafel kry:

  • Infrastruktuur – pad, spoor, hawens, varsproduktemarkte, telekommunikasie en Eskom is almal noodsaaklike vorms van nasionale infrastruktuur wat in stand gehou, beskerm en uitgebrei moet word, maar wat tans groot finansiële en produktiwiteitsverliese vir die boerderysektor veroorsaak.
  • Bio-sekuriteit – bek-en-klouseer, vark- en voël-griep, vrugtevlieg, ens. spruit uit poreuse internasionale grense en lakse fitosanitêre beheermaatreëls.
  • Koste van insette – diesel, kunsmis, chemikalieë, kapitaal, regulatoriese en ander koste styg die hoogte in en raak onbekostigbaar.
  • Kriminaliteit en arbeidsonrus – veroorsaak deur populistiese, opportunistiese, onverantwoordelike politici en georganiseerde misdaad sindikate kan lei tot anargie, wat plaas- en landelike veiligheid op ‘n massiewe skaal in gevaar stel.
  • Natuurrampe – sprinkane, vloede, droogtes, verwoestende veldbrande en kommandowurms is van die rampe wat toenemend deur ons in die gesig gestaar word as gevolg van klimaatsverandering.

Dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), sê dat die organisasie en sy affiliasies hard vir hul lede veg sodat hierdie rooi vlae nie buite beheer raak nie.

Lede van die publiek word genooi om Vrystaat Landbou by sy Nampo-stalletjie te besoek en uit te vind wat hy doen om ‘n leë etenstafel te voorkom. Jy kan ook ‘n verskil aan ons paaiesituasie maak deur ‘n 25 kg-sak koue teer teen R100 per pak te koop vir ‘n boer om ‘n slaggat mee te help vul.

“Kom praat met Vrystaat Landbou – die tuiste en stem van rede vir kommersiële boere – swart en wit, jonk en oud, manlik of vroulik, familieplaas of korporatiewe besigheid,” voeg Botha by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dries ·

En die kos wat daar is wil hierdie siek regering nog vir Kuba skenk ook. Mal spul

Pieter ·

Nee wat , ek betaal reeds belasting, hoekom moet ek nou nog ekstra geld uithaal om teer te koop?
Kos is reeds so onbeskostigbaar duur. Begin sommer vandag nog jou eie groente tuin, hou paar hoenders aan vir eiers. Word deel van jou stedelikke boere gemeenskap, of te wel “urban farmers”

Annamarie ·

Begin sommer by die Brandstof pryse, CR !!! Wat betaal die taxi’s en wat betaal die manne wat die kos moet produseer???? Dis n SKANDE !!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.