SA moontlik teen April deur tweede virusgolf

(Argieffoto: Luca Sola/AFP)

Suid-Afrika kan tot die einde van Januarie nog die kruin wat Covid-19-verwante sterftes betref, beleef voordat die aantal sterfgevalle en hospitaalopnames sal begin afneem.

Statistieke vanaf die departement van gesondheid wys die aantal nuwe daaglikse gevalle is reeds aan die afneem in die land se vier grootste provinsies: die Wes-Kaap, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng. Die aantal nuwe gevalle in Limpopo, Noordwes, Mpumalanga en Noord-Kaap neem nog toe.

“Daar is lig in die tonnel,” meen Reint Dykema, kennisbestuurder by AfriForum Navorsingsinstituut. Piet Streicher, data-ontleder van die Suid-Afrikaanse organisasie Pandemic Data & Analytics, beter bekend as Panda, voorspel ook dat Suid-Afrika teen April heeltemal oor die tweede infeksiegolf sal wees.

Dykema sê die aantal Covid-19-verwante sterfgevalle sal vir die volgende twee weke nog hoog bly, aangesien meer as 2 400 pasiënte tans met Covid-19 in die waakeenheid van hospitale behandel word. Meer as 1 300 van dié pasiënte is aan ventilators gekoppel.

Dykema het Woensdag daarop gewys dat Covid-19-verwante sterftes in Gauteng en KZN in dié stadium nog toeneem, terwyl die Wes-Kaap en Oos-Kaap se sterftes reeds afgeneem het.

Hy verwag dat die land se sterfgevalle teen die einde van die maand geleidelik sal begin daal.

Streicher beaam dit.

(Argieffoto: Go Nakamura/Getty Images/AFP)

Volgens hom het Port Elizabeth in die Oos-Kaap reeds tussen 18 en 24 November sy piek bereik wat sterftes betref, terwyl Oos-Londen sy piek tussen 16 en 22 Desember beleef het.

Kaapstad is byna oor sy piek nadat die Moederstad tussen 14 en 21 Januarie sy piek bereik het.

Gauteng en KwaZulu-Natal sal na verwagting hul piek teen einde Januarie beleef.

“Teen die einde van Januarie sal al vier groot provinsies na verwagting minder sterftes begin aanteken.”

Dykema sê modulering dui daarop dat Suid-Afrika teen 1 Februarie gemiddeld 500 sterfgevalle per dag sal hê, teenoor die 560 sterfgevalle wat gedurende die piek van die virusgolf aangemeld is. Dié getal sal waarskynlik teen 14 Februarie tot ’n gemiddeld van 200 per dag kan daal.

Streicher voorspel op sy beurt dat Suid-Afrika in April na verwagting daagliks minder as 100 sterfgevalle sal aanteken, minder as ’n vyfde van die getal gedurende die piek van die tweede golf.

(Argieffoto Foto: Michele Spatari/AFP)

Volgens Dykema het Suid-Afrika in geheel reeds teen Nuwejaar sy piek bereik wat betref die daaglikse aantal nuwe gevalle wat aangemeld is.

Die Oos-Kaap, Wes-Kaap en KwaZulu-Natal se aktiewe gevalle is in dié stadium ook aan die afneem, hoewel Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en Noord-Kaap se aktiewe gevalle steeds toeneem.

Gauteng toon in dié stadium ’n sywaartse toename wat aktiewe gevalle betref.

Dykema herinner egter daaraan dat die “yler bevolkte” provinsies ’n stadiger toename toon, vergeleke met provinsies met groot bevolkings.

Is daar ’n moontlikheid van ’n derde golf?

Dykema meen daar is ’n sterk moontlikheid vir ’n derde golf Covid-19-gevalle, waartydens nóg ’n mutasie van die koronavirus en die griepseisoen beslis ’n rol sal speel.

Streicher sê daar is in dié stadium te min inligting beskikbaar om die tyd en grootte van ’n derde golf te bevestig. “Die patroon is gewoonlik dat latere golwe kleiner word, ná een of twee groot golwe, terwyl die virus aansteekliker, maar nie dodeliker word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

Dit blyk dat daar daagliks gevalle aangeteken word van besmetting van die virus………maar die Kerke wat die blaam gekry het is toegemaak. So waar kom dit nou vandaan? DIE KERKE IS TOE! Sogenaamde “HOTSPOT”

Jan ·

Haha, virus ja, pandemie nee. Die pandemie-gedeelte is ‘n foefie.

Chantel ·

Hoe bedoel jy pandemie is ‘n foefie. Wat beskou jy as ‘n pandemie? Wat ek daagliks beleef is hoe drs moet besluit watter patiente op ventilator geplaas moet word en watter nie. Daar is nie plek vir patient in hospitale nie, so ons rig tydelike sale op in parkeerareas of veldhospitale. Ek wonder net, as dit nie deel is van ‘n pandemie nie, wat is dan? Net ‘n beskeie vraag, mens se opinies verskil mos, geen aanslag nie Jan, net ‘n vraag. Sal jou siening waardeer.

Petrus ·

Die klomp behandel ons of ons dom is. Hulle sal die lockdown bly aanskyf tot en met die vaccine opdaag en dan gaan hulle mense dwing om dit te vat . Hulle beplanning is ooglopend en ek sal wragtig nie toelaat dat hulle my dwing nie en ek sal nie alleen dood nie.

Jaco ·

Onthou net dat lockdown, wat ek seker van is jy NIE van hou nie, sal aanhou as te veel mense soos jy inenting weier. Dan karring dié lockdown met toe strande en besighede wat swaarkry maar net aan en aan.

Hendrik ·

Dit hang wat jou gesondheidstoestand is. Soos ek berigte lees is daar mense wat onderliggende probleme het wat nadat hulle die inenting kry beswyk. Miskien moet elek persoon wat inenting wil doen eers sekers maak my ‘n geneesheer of alles nog reg is. Vir ‘n gesonde persoon soos jy Jaco maak dit seker nie saak nie of hoe sal jy nou weet jy het nie ‘n onderliggende siekte nie? Gerendeltyd het die ekonomie verwoes of miskien is jy ook nou nie beinvloed nie. Onnodige maatreels het die ekonomie verwoes en daar is gemeenskappe wat ongedisplineerd optree. Teiken die groepe en nie gemeenskappe wat hulle gedra nie.

Irma ·

Jaco, dit bly ‘n mens se eie vrye keuse of hulle die entstof wil neem of nie en respekteer asseblief die mense se keuse wat nie die entstof wil neem nie.

Pieter ·

Maar ongelukkig ons gaan nog vir ewig steier onder die anc-golf van korrupsie en diefstal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.