SA moordverdagte sewe jaar later in Brasilië vas

‘n Destydse foto van Gerhard Jansen van Vuuren.

Gerhard Jansen van Vuuren wat daarvan beskuldig word dat hy sy vriendin byna ʼn dekade gelede wreed vermoor het, is Donderdag ná sewe jaar as ʼn voortvlugtige in Brasilië aangekeer.

Jansen van Vuuren (39) is daarvan beskuldig dat hy sy voormalige vriendin, Andrea Venter (25), in Desember 2011 buite haar woonstelkompleks in Fourways, Johannesburg, doodgesteek het. Sy het daar vir hom weggekruip. Jansen van Vuuren kon dit glo nie aanvaar dat Venter die verhouding met hom verbreek het nie en het haar na bewering genadeloos agternagesit.

Venter is na bewering 14 keer met ʼn skerp voorwerp gesteek. Jansen van Vuuren het daarna glo probeer selfmoord pleeg deur homself in die nek te steek.

Gerhard Jansen van Vuuren na sy inhegtenisneming in Brasilië. Hy was sewe jaar spoorloos. (Skermgreep)

Paramedici het Jansen van Vuuren op die toneel behandel en Venter is daar dood verklaar.

Van Vuuren het daarna twee keer in die Randburgse landdroshof onsuksesvol om borgtog aansoek gedoen nadat die staat aangevoer het hy is ʼn vlugrisiko. Sy regspan het egter ʼn aansoek by die hooggeregshof ingedien waarna hy op borgtog vrygelaat is.

Vier dae voordat sy verhoor in Mei 2013 moes begin, het Jansen van Vuuren met ʼn vals paspoort uit die land gevlug.

Interpol het ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik en hy is in Augustus 2013 in Brasilië aangekeer op ʼn aanklag van die vervalsing van dokumente. Hy is ongelukkig in 2015 vrygelaat nadat hy ʼn vonnis vir dié misdaad uitgedien het, het brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, gesê.

Gerhard Jansen van Vuuren. (Skermgreep)

Interpol in Pretoria was sedertdien in deurlopende verbinding met die owerhede in Brasilië in ʼn poging om Jansen van Vuuren op te spoor en hy is vandeesweek eindelik weer daar in hegtenis geneem.

“Die spanne se pogings om hom ná soveel jaar as ʼn voortvlugtige op te spoor, moet geloof word. ʼn Les moet ook uit dié saak geleer word en dit moet dien as ʼn streng waarskuwing teen diegene wat misdade teen vroue en kinders pleeg: die lang arm van die gereg gaan jou inhaal,” het genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, gesê.

Jansen van Vuuren is in dié stadium steeds in ʼn tronk in Rio de Janeiro, terwyl die proses om hom aan Suid-Afrika uit te lewer afgehandel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Sarel ·

Wel bly vir die ouers wat na al die jare moontlik ” closure” sal kan kry. Met dank aan Interpol maar uitlewering is nog ??????. In SA sal hy net weer Borg kry en beslus ook nie gepaste vonnis nie.

marius ·

“Agbare , die staat is besig met vals en misleidende stellings dat ons klient ‘n vlug risiko is “

Pamela ·

So bly hys uiteindelik vasgevang vir n verskriklike wreede moord.

johanf ·

Net so, mag hy nou ń maksimum straf kry, nog ń voorbeeld skep……..

Fufu ·

Ek hoop die regsbank leer n les hieruit. Hoe kan so n krimineel borg toegestaan word ? Die howe is n grap. Waarom word die regter wat borg toegestaan het nie verantwoordelik gehou hiervoor nie ?

pieterweskaap ·

Daar moet vasgestel word watter amptenare by Binnelandse Sake was betrokke by die uitreik van daardie vervalste paspoort. Ek wonder wat het die paspoort gekos?

Willem ·

En die regter van die Hooggeregshof wat die borgtog toegestaan het? Hy loop weg met geen vergelding vir sy onnooslikheid nie?? Hoekom?

Willem ·

Hi Maroela Media. Julle doen presies wat die sosiale media platforms met konserwatiewe mense wêreldwyd doen. Julle besluit wie wat mag sê. Wel, wees gegroet. Ek verwyder julle nóú van my foon af.

Elize ·

Dankie tog nog iemand wat soos ek voel deur hierdie siek spul

Amanda ·

Uitstekende tyd vir sy inhegtenisneming, noudat die gereg strenger teen sulke boewe gaan optree. Net die feit dat hy in n tronk in Suid Afrika aangehou gaan word vir moord is alreeds vreesaanjaend. Hy sal sy straf sommer so op n skinkbord kry….elke dag. Ha ha ha. Die verpletterde ouers van Andrea kan berusting hierin vind!!!!! Sterkte aan haar ouers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.