SA moordverdagte uiteindelik uitgelewer

‘n Destydse foto van Gerhard Jansen van Vuuren.

ʼn 39-jarige Suid-Afrikaanse man wat in 2011 glo sy voormalige meisie vermoor het en vroeër vanjaar in Brasilië in hegtenis geneem is, gaan Vrydag aan die Suid-Afrikaanse owerhede uitgelewer word.

Gerhard Jansen van Vuuren het na bewering in Desember 2011 Andrea Venter (25) buite haar woonkompleks in Johannesburg doodgesteek.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê Jansen van Vuuren het op die moordtoneel probeer selfmoord pleeg, maar dit het misluk en hy is in hegtenis geneem.

Hy het in die landdroshof in Randburg op aanklag van moord verskyn. Hy is later in die Johannesburgse hooggeregshof borgtog toegestaan nadat die polisie twee keer sy aansoek om borgtog in die landdroshof teengestaan het.

In Mei 2013, vier dae voordat sy moordverhoor sou begin het, het hy met vervalste reisdokumente uit die land gevlug.

“Interpol het ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik waarna die proses om hom op te spoor, bespoedig is,” sê Naidoo.

Jansen van Vuuren is in Augustus 2013 deur Brasiliaanse owerhede in hegtenis geneem vir die vervalsing van dokumente. Hy is in 2015 vrygelaat nadat hy ʼn vonnis vir die misdaad uitgedien het.

Interpol in Pretoria is al die afgelope paar jare in verbinding met die Brasiliaanse owerhede  om Jansen van Vuuren op te spoor.

Hy is in Junie vanjaar weer opgespoor en in hegtenis geneem. Hy is sedertdien in ’n gevangenis in Rio de Janeiro aangehou.

“Na ’n lang soektog is dié voortvlugtende uiteindelik opgespoor en nou kan geregtigheid geskied vir ’n misdaad wat amper ’n dekade gelede gepleeg is.”

Jansen van Vuuren sal na verwagting Vrydag om 13:00 by die OR Tambo Internasionale Lughawe aankom. Hy sal deur lede van Interpol vergesel word.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die owerhede wat by die ondersoek betrokke was, geprys vir hul harde werk en deursettingsvermoë om die voortvlugtende na al die jare vas te trek.

“Dit is ʼn oorwinning vir die polisie. Ons fokus is daarop gerig dat die oorledene se vriende en familie nou vrede kan kry en dat geregtigheid uiteindelik kan geskied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ysgodin ·

Stel jou voor die magtelose woede wat daardie polisiemanne moes gevoel het toe hierdie moordenaar borgtog toegestaan is nadat hulle dit twee maal teengestaan het. Dis geen wonder soveel polisielede verlaat die SAP nie – hulle werk lang ure, onder moeilike en gevaarlike toestande, en dan kom ruk die howe die matte onder hulle uit…

My siening ·

Sy regs verteenwoordigers moet tot n mate verantwoordelik gehou word want die het gelieg om borg te kry. Net n gedagte!

BERENICE ·

Dit is omtrent tyd, hulle moes hom nooit eers op borgtog uitgelaat het nie want hy het haar verniel vir dae lank en wreed vermoor

Niklaas ·

Dit laat my nou dink aan borg destyds vir ene Dirk Prinsloo , van Advokaat Barbie faam. Hy het
ook borg gekry en verdwyn toe na Belarus as ek dit reg het. Tyd in hul tronk gespandeer daar ook . Blykbaar is hy steeds daar rond. Dis goed dat Van Vuuren nie vir ewig kon wegkom nie

Cherokee ·

Toevallig het diè berig ook die Dirk Prinsloo geval in herinnering gebring, maar ek kon nie sy naam onthou, slegs die van Barbie. (Sy is immers meer onthoubaar) Die reëlings wat getref is (soos ek onthou) is dat Prinsloo aan Suid Afrika uitgelewer sal word, na hy sy vonnis weens bankroof uitgedien het. Ek onthou dit as Rusland (en issie nou lus vir Google).

Ansie ·

Gaan die landdros/regter wat aan hom borg toegestaan het vir ‘n skedule 6-misdryf verantwoordelik gehou word vir vermorste uitgawes om hom op te spoor? Dit behoort ‘n boodskap uit te stuur dat sulke kriminele nie moet borg kry nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.