ʼn 39-jarige Suid-Afrikaanse man wat in 2011 glo sy voormalige meisie vermoor het en vroeër vanjaar in Brasilië in hegtenis geneem is, gaan Vrydag aan die Suid-Afrikaanse owerhede uitgelewer word.
Gerhard Jansen van Vuuren het na bewering in Desember 2011 Andrea Venter (25) buite haar woonkompleks in Johannesburg doodgesteek.
Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê Jansen van Vuuren het op die moordtoneel probeer selfmoord pleeg, maar dit het misluk en hy is in hegtenis geneem.
Hy het in die landdroshof in Randburg op aanklag van moord verskyn. Hy is later in die Johannesburgse hooggeregshof borgtog toegestaan nadat die polisie twee keer sy aansoek om borgtog in die landdroshof teengestaan het.
In Mei 2013, vier dae voordat sy moordverhoor sou begin het, het hy met vervalste reisdokumente uit die land gevlug.
“Interpol het ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik waarna die proses om hom op te spoor, bespoedig is,” sê Naidoo.
Jansen van Vuuren is in Augustus 2013 deur Brasiliaanse owerhede in hegtenis geneem vir die vervalsing van dokumente. Hy is in 2015 vrygelaat nadat hy ʼn vonnis vir die misdaad uitgedien het.
Interpol in Pretoria is al die afgelope paar jare in verbinding met die Brasiliaanse owerhede om Jansen van Vuuren op te spoor.
Hy is in Junie vanjaar weer opgespoor en in hegtenis geneem. Hy is sedertdien in ’n gevangenis in Rio de Janeiro aangehou.
“Na ’n lang soektog is dié voortvlugtende uiteindelik opgespoor en nou kan geregtigheid geskied vir ’n misdaad wat amper ’n dekade gelede gepleeg is.”
Jansen van Vuuren sal na verwagting Vrydag om 13:00 by die OR Tambo Internasionale Lughawe aankom. Hy sal deur lede van Interpol vergesel word.
Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die owerhede wat by die ondersoek betrokke was, geprys vir hul harde werk en deursettingsvermoë om die voortvlugtende na al die jare vas te trek.
“Dit is ʼn oorwinning vir die polisie. Ons fokus is daarop gerig dat die oorledene se vriende en familie nou vrede kan kry en dat geregtigheid uiteindelik kan geskied.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
10 Kommentare
Goed so – uiteindelik – hoop hy verrot in die tronk.
Stel jou voor die magtelose woede wat daardie polisiemanne moes gevoel het toe hierdie moordenaar borgtog toegestaan is nadat hulle dit twee maal teengestaan het. Dis geen wonder soveel polisielede verlaat die SAP nie – hulle werk lang ure, onder moeilike en gevaarlike toestande, en dan kom ruk die howe die matte onder hulle uit…
Dit is omtrent tyd, hulle moes hom nooit eers op borgtog uitgelaat het nie want hy het haar verniel vir dae lank en wreed vermoor
Gereg se arm is darem maar lank.
Reg en geregtigheid moet geskied!!