SA museums in krisis: ‘Stories, kultuurkonteks gaan verlore’

Dr. Dionē Prinsloo, hoof uitvoerende beampte van SA Akademie. Foto: YouTube/Skermskoot uit ‘n Dagbreek-video

ʼn Onlangse bestekopname wat ondersoek ingestel het na Suid-Afrikaanse museumversamelings en -uitstallings het vasgestel dat meer as 50 Suid-Afrikaanse museums in die laaste paar jaar tot niet gegaan het – en dat nóg 50 boonop dieselfde gevaar loop.

Dr. Dionē Prinsloo, hoof- uitvoerende beampte van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, sê die bewaring van museumversamelings en museumverwante kundigheid het ook tydens die opname onder die loep gekom.

Prinsloo sê dit is kommerwekkend dat museums in Schoemansdal, Botshabelo, Winburg, Kroonstad en ook die Macrorie Huismuseum in Natal, die landboumuseum in Lichtenburg en talle dorpsmuseums moontlik ʼn gevaar loop om ook hul deure te sluit.

“Indien die korrekte museumkundige bewaringsbeginsels nie dringend toegepas word nie, sal baie onvervangbare voorwerpe tot niet gaan. Die stories en kultuurkonteks van die voorwerpe, en gevolglik ook ʼn kosbare deel van die Suid-Afrikaanse verlede, sal verlore gaan indien nie vinnig opgetree word nie,” sê Prinsloo.

Sy sê dringende konstruktiewe gesprekke en aksie vir die bewaring van hierdie voorwerpe is noodsaaklik. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns is volgens haar daarom tans in gesprek met ʼn forum van kultuurorganisasies en ander kundiges oor die huidige stand van museums in Suid-Afrika.

“Wêreldwyd word museums as bewaarders of beskermers van kultuurgoedere beskou, en in Suid-Afrika verkeer die daarmee gepaardgaande kultuurbewussyn in ʼn krisis. Dié situasie word klaarblyklik nie in die algemene diskoers in Suid-Afrika erken of raakgesien nie.

“Sonder vakkundige kennis, veilige bewaring en sekuriteit, instandhouding en korrekte museumkundige bewaringsmetodes (wat internasionale praktyk is), en sonder sinvolle kontekstualisering van voorwerpe het kultuurgoedere min kans op oorlewing. Ook word daar nie ʼn toekomstige generasie van museumbesoekers gekweek nie,” sê sy.

Prinsloo sê daar is “feitlik geen verset” teen die huidige agteruitgang nie. Volgens haar is dit problematies dat daar ʼn gebrek is aan die optekening van die gewoontes, tradisies of lewenswyse van mense in die verlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johanna Botha ·

Die hele land is in n krisis …..misdaad oral , korrupsie oral alles gaan net op …geen werk geen opvoeding …geen waardes …SA is n krisis !

Reguit ·

En daar is nog sekeres wat dink Afrika kan iets in stand hou. Droom maar voort.

Peet Schabort ·

Ek het ‘n navorsingstuk op Youtube gekry waar in Afrika die hede saak maak maar die verlede en toekoms bestaan tans nie en maak dus nie saak nie. Daarom is beplanning nul en tel die verlede nie. Tog weet ons dat selektief die verlede wel onthou word. Meeste indien nie al die museums is in regeringshande wat probleme het. Graag sal ek wil weet wat het van die items in daardie museums geword? Winburg se museum se dak het gelek en as gevolg daarvan is talle items ernstig beskadig. Dit was ook futiel om die Vrystaatprovinsie se verantwoordelikes in die hande te kry, jy word net doodeenvoudig geïgnoreer. Daar is ook weinig kundiges en die laaste museum wat ek besoek het het die verantwoordelike persoon lekker gesit en TV kyk!! Daar sal spoedig plan gemaak moet word want talle privaat mense (soos ek) sit met goed wat skynbaar nie ‘n heenkome het.

Ella ·

Gee asb inligting oor hoe gewone mense kan help. Ek het baie tyd en die saak le my na aan die hart.

humor ·

Wie is in beheer. Ek wil se mense wie se kultuurervenis dit is moet in beheer wees en toesighoudende beamptes wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.