SA-naelloopkampioen bedwelm, beroof

Simon Magakwe. Foto: Facebook

Simon Magakwe. Foto: Facebook

Simon Magakwe, die Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 100 m-naelloop, was die naweek die slagoffer van ʼn kapingslenter in Pretoria.

“Ek het Saterdag saam met ʼn vriend in Hatfield gekuier. Twee vroue en ʼn man het ons genader terwyl ons na my motor gestap het en gevra of ons hulle ʼn saamrygeleentheid kan gee tot by Bosman-stasie,” het Magakwe aan Sapa gesê.

“Hulle het vir ons pepermentlekkers aangebied en ons het dit geëet sonder om te besef dit was ʼn dwelmmiddel. Ons het albei vaak geraak en ons bewussyn verloor.”

Magakwe sê hy en sy vriend het ʼn paar uur later in ʼn onbekende deel van die stad langs ʼn pad wakker geword. Magakwe se motor en hul ander besittings was skoonveld.

“Ons was albei deurmekaar en het nie geweet wat gebeur het nie. Ons kon daarin slaag om by die polisiestasie in Sunnyside uit te kom.”

Die polisie het ʼn saak geopen. ʼn Opsporingsmaatskappy kon vasstel dat Magakwe se Audi A3 in Mabopane is.

“Die diewe het toe glo die motor se battery uitgehaal wat tot gevolg gehad het dat die sein versteur is en die motor nie verder opgespoor kon word nie.”

Magakwe het verlede week na Suid-Afrika teruggekeer nadat hy drie maande oorsee aan byeenkomste deelgeneem het. Hy het onder meer in Julie aan die Statebondspele in Glasgow, Skotland deelgeneem.

Magakwe is genomineer vir die ANN7 se toekenning van sportpersoon van die jaar, maar kon weens die voorval nie Saterdagaand se prysuitdeling bywoon nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.