SA ’ners in buiteland kan reeds registreer om te stem

Die regering het opdrag gegee dat Suid-Afrikaanse ambassades in die buiteland begin om Suid-Afrikaanse burgers wat in die buiteland woon, aan te moedig om as kiesers te registreer sodat hulle volgende jaar by ambassades kan stem.

Alle Suid-Afrikaners wat geregistreer het as kiesers is stemgeregtig, selfs al woon hulle nie meer in die land nie. Suid-Afrikaanse kiesers in die buiteland moet egter ook ʼn ekstra vorm – vorm VEC10 – invul voordat hulle kan stem. Daardie vorm kan eers ingevul word nadat die president die kiesdatum bekend gemaak het.

Buitelandse kiesers is ʼn groot bron van stemme vir die opposisiepartye, met die ANC wat in 2014 net omtrent tien persent van die buitelandse stemme getrek het.

Die meeste stemme wat by enige stempunt in die 2014-verkiesing uitgebring is, was by die Suid-Afrikaanse hoë kommissariaat in Londen. Ander buitelandse stempunte was minder besig, met die Suid-Afrikaanse ambassade in Doebai die naasbesigste buitelandse stempunt.

Francine Higham, DA-leier in die buiteland, het dus ʼn beroep gedoen op alle Suid-Afrikaners in die buiteland om te registreer as kiesers indien hulle dit nie reeds gedoen het nie.

Suid-Afrikaners in die buiteland wat reeds as kiesers geregistreer is, hoef nie weer te registreer nie. Hulle moet wel, nadat die stemdatum aangekondig is, weer ʼn vorm invul sodat die betrokke ambassade kan weet hoeveel kiesers om op stemdag te verwag.

Suid-Afrikaners in die buiteland wat nog nie as kiesers geregistreer is nie, kan na die naaste ambassade, konsulaat of hoë kommissariaat gaan en daar registreer. Voornemende kiesers moet ʼn Suid-Afrikaanse ID-dokument (boekie of kaart) saamvat, asook hul Suid-Afrikaanse paspoort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jon ·

Hoekom sal ek my tyd mors? Saffas op media soos die maak dit keer op keer duidelik dat ons wat nie in SA bly nie, niks opinie mag he nie, so hoekom sal ek my tydmors.

julius ·

Stem saam. Waarvoor stem ons die keer, plaasmoorde of grond onteining sonder vergoeding? Stem reg,bly weg!

LogaNZ ·

Ek stem 100% Jon! Dag na dag word ons gesê ons opinies tel niks, maar dan wil hulle he ons moet ons tyd afstaan en gaan stem LOL. Nee wat dankie, ek’t beter goed om met my tyd te maak.

Afrikaanse Knaap ·

Nee kom aan manne, asb. Ons het julle stemme nodig. Ek kan julle verseker julle opinies tel en julle word benodig. Ek het julle nodig. Suid-Afrika het julle stemme nodig.

Joe Hall ·

Vir wat en waarom dink ek nou aan daai uitdrukking; “good riddance”???

Pieter ·

Solank hulle VF+ stem sal ek gaan help met die registrasieproses.

Jon ·

Joe Hall, jy’s nou n uitstekende voorbeeld, onthou net jou kommentaar as julle weer ons smeek om te stem of om jul plaasmoorde of watokal uit te besyn ne. Thanks pel, jy’t sopas ons punt bevestig.

LogaNZ ·

@JoeHall, jy bewys sy punt nou 100%! Onthou net wanneer julle weer wil hulp he van ons af ne, of dit nou plaasmoorde is, of om te stem dat die ANC die 2/3des kry nie, onthou jou woorde.

Joe Hall ·

Jon, Julius en LogaNZ het reg aan die begin met jul negatiewe uitsprake vorendag gekom. “Good riddance” bly steeds my woordkeuse wanneer ek ongevraagde opmerkings soos ‘stem reg, bly weg’, ‘tydmors’ ens teëkom.
Joe Hall
:-)

Donald Duck ·

Is dit nie gewoonlik die mense wat nie stem, die meeste te se het nie? Stem dan vir n ander party wat n stem minder is die die EFF en die ANC.

Elizabeth ·

Wat as jy n paar duisend km’s van die naaste konsulaat bly ? As ek kan sal ek stem. Ek het ook vrede gemaak met die medeburgers in SA wat so sleg praat van die wat geëmigreer het. Suur druiwe. Maklik om iemand sleg te se as jy nie self die pad gestap het nie. Ek weet wat ons as gesin moes deurmaak net om ons kinders n beter kans in die lewe te gee. Na ‘n paar jaar bestaan jy nie meer vir SA vriende en familie nie. Ek kan nie praat wat in SA aangaan nie maar ons ou nasie kan eenvoudig net nie saamstaan nie want die son is eenvoudig net te klein om ander iets te gun. Al wat ek kan se is sterkte want dit gaan nie beter word nie.

Henry ·

Elizabeth
Wat laat jou dink dat daar nie derduisende Afrikaners buite die landsgrense is, wat reeds laaaaankal met kommer en andersyds met dankbaarheid beleef dat hulle nie die daaglikse probleme en gevare van hul familie en vriende buite die nuwe Suid Afrika hoef te ervaar/ken nie???
Ons en ons vriende en familie sal inderdaad steeds bly saamstaan in hierdie droewe land, tsv die manteldraers en andere wat altyd met ons sal wees.
O ja. Moet tog nie in die waan leef dat ons nie die laaaang pad in die buiteland ken nie. Meeste van ons wat nou hier is, was reeds laaaank gelede terug waar jy/julle nou is.

RN ·

Hier is nie n ambassade of konsulaat in Salalah nie. Hier is wel n paar Saffas wat verseker sal wil stem. Hoe nou gemaak?

Oom Kalahari ·

Graag wil ek met opregtheid verskoning vra as daar ‘n individu of twee met hul negatiewe aanvalle vorendag kom, maar praat nie namens die meerderheid van ons Afrikaners in SA nie.
Ons benodig jul stemme asb en jul deurentydse ondersteuning op die grond waar ookal jul in die buiteland is. Dit gaan swaar waar ons hier is in die helhool en jul het darem die geluk gehad om vroegtydig weg te kon kom en die regte besluite gemaak. Ons vra uit die diepte van ons harte “Help” ons asb, want jul stemme kan ‘n verskil en groter verteenwoordiging bring. Stem asb tog net VF+ want hul veg darem nog vir die Afrikaner se regte. Dankie en menige van ons in SA waardeer wat jul vir ons in die buiteland beteken en ook hartseer om jou mede Afrikaners so te moet verloor deur die omstandighede. Asb gaan stem.

Mrs H ·

Dankie oom Kalahari! So mooi en eerlik gese. Die meerderheid Afrikaanse mense, wat julle daar oor die groot waters welwillendheid toe wens, kan nie meer of beter of meer nederig vir jul stemme vra nie. So ons vra dan nou omverskoning vir die “hier en daar” se bitter vrot appeltjies in ons SA mandjie? Maar GROOT asb, ons het julle bitter baie nodig en ek persoonlik, is baie dankbaar dat hulle wel buitelandse SA’ners toelaat om te stem. Help my en ander asb wat klein babas het en nerens kan gaan nie, en ook nie weet wat kleintjies se toekoms in SA sal inhou nie? Moet julle asb nie steur aan die minderheid “bitter-bekke” nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.