SA nóg effens afgegradeer

Argiefftoto van Standard & Poor’s. (Foto: Twitter)

Terwyl beurtkrag tussen fase vier en vyf wissel, het die graderingsagentskap Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) Suid-Afrika nóg ʼn hou toegedien en sy staatskuld verder afgegradeer.

Die graderingsagentskap het die vooruitsig vir Suid-Afrika se kredietgradering Woensdagaand onverwags van positief na stabiel verander. Die land se staatskuld in rand, asook in buitelandse geldeenhede het egter onveranderd op BB en BB- gebly.

Dit is onderskeidelik twee en drie vlakke onder beleggingsgraad.

Die afgradering was onverwags aangesien die agentskap se sesmaandelikse besluit oor die kredietgradering eers in Mei verwag is.

Die tydsberekening van die aankondiging is ook nie ideaal nie, aangesien Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) maar enkele dae gelede onthul het dat die bruto binnelandse produk (BBP) in die vierde kwartaal van 2022 met 1,3% gekrimp het.

S&P het sy besluit verduidelik deur te sê dat Suid-Afrika se ekonomie onder druk verkeer weens uitdagings rakende infrastruktuur, veral die huidige tekort aan elektrisiteit. Die graderingsagentskap meen ook dat hervormings om dié uitdagings aan te pak en die prestasie by staatsondernemings te verbeter, gans te stadig ingestel word.

Intussen hou staatsondernemings voortgesette afwaartse risiko’s vir Suid-Afrika se fiskale en skuldposisie in, aldus S&P.

Die agentskap het wel toegegee dat die land se fiskale posisie in 2022 verbeter het namate ekonomiese groei sedert 2020 se resessie herstel het.

Maroela Media het vroeër berig die ekonomie het in 2022 met 2% in reële terme gegroei.

“Ons kan die graderings weer verhoog indien daar ʼn verbeterde rekord van doeltreffende hervormings is, wat lei tot strukturele verbeterings in ekonomiese groei, tesame met ʼn vermindering in openbare skuld en voorwaardelike aanspreeklikhede,” het die S&P verder gesê.

Die Nasionale Tesourie het in reaksie op die afgradering gesê die regering is in die proses om dringende maatreëls in te stel om beurtkrag op kort termyn te verminder, asook om die sektor te transformeer om stabiele kragtoevoer op lang termyn te verseker.

“Ander hervormings is onderweg om prestasie in die vervoersektor te verbeter, veral wat vragspoorvervoer betref.”

Die tesourie het ook gewys op pres. Cyril Ramaphosa se planne rakende die oorneem van Eskom se R254 miljard skuld en die R14 miljard wat op medium termyn bewillig is om misdaad en korrupsie in die komende finansiële jaar te bekamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Wakkerslaper ·

…Zimbabwe? Ons is lankal ‘n 2de Zimbabwe… hierdie hool is besig om ‘n 2de Nigerië te word!

Wit Leeu ·

Niks beters verwag nie ! Die land is lankal in sy glorie in !

Republikein in die Wes Kaap ·

Moet beleggers daar, soos Pensoenfondse, oningelig bly?

Amelia ·

En rama sit met miljoene ondfer bank voel niks nee minder as niks en met smile heelpad want hy is nie een wat moet sente omdraai nie

jou gewete ·

dis nie strafmaatreels nie, dis beskerming vir beleggers in buiteland. dis nie hulle skuld dat ons redeneer soos jy ook nie. staan liewer op en beveg wat die regering doen, as almal saamstaan kan dit gestop word

Theunis ·

Gelukkig het CR genoem dat so iets nie ‘n probleem is vir SA nie, die energie krisis is gelukkig maklik om te herstel.

Martin ·

Enige oorseese beleggers wat tans geld wil belê in die reenboog nasie Suid Afrika moet baie goed daaroor dink want hulle sal ‘n groot fout maak. Jammer om dit te sê maar dit is ongelukkig realiteite waarmee ons tans te doen het. Ons land was eens op ‘n tyd ‘n trotse nasie maar die verval om ons wys hoe onbevoeg die regerende korrupte party is om ‘n land te regeer.

Shakespeare ·

Die ergste is, hulle en hulle ondersteuners ( wat sterf vd honger) GLO VAS wat hulle uitbasuin “We have a GOOD story to tell”
SKRIKWEKKEND !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.