SA Olimpiese verspringer tydelik geskors

Luvo Manyonga kort nadat hy ‘n silwermedalje by die 2016 Olimpiese Spele in Rio verower het. Foto: AP Photo/Martin Meissner

Die Suid-Afrikaanse verspringer Luvo Manyonga wat in 2016 ’n silwermedalje by die Olimpiese Spele in Rio losgespring het, is tydelik geskors nadat hy Atletiek se Integriteitseenheid (AIU) se opkikkerreëls drie keer in 12 maande oortree het.

“Die AIU het Luvo Manyonga van Suid-Afrika aangekla nadat hy versuim het om sy bewegings by die opkikkersowerhede aan te meld, ’n oortreding van Wêreldatletiek se opkikkerreëls. Die verspringer is voorlopig geskors,” het AIU Vrydag op Twitter gesê.

AIU is ’n onafhanklike liggaam wat optree teen oortreders van opkikkerreëls.

Die 30-jarige Manyonga, ’n wêreldkampioen in 2017 en Statebondkampioen in 2018, is in 2012 vir 18 maande uit atletiek geskors nadat hy positief getoets het vir metamfetamien te midde van ’n lang stryd teen dwelmverslawing.

Manyonga is ook in Mei verlede jaar beboet nadat hy in die openbaar gedrink en die land se streng afsonderingsregulasies oortree het.

Manyonga se jongste skorsing kan moontlik beteken dat hy die herskeduleerde Olimpiese Spele wat na verwagting in Julie in Tokio plaasvind, gaan misloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.