SA onderteken verdrag wat lei tot vryehandelooreenkoms

Pres. Cyril Ramaphosa onderteken die Kigali-ooreenkoms in Rwanda (Foto: Twitter via die Presidensie)

Pres. Cyril Ramaphosa was Woensdag een van meer as 40 Afrika-staatshoofde om die Kigali-verdrag te onderteken wat gaan lei tot vrye handel tussen Afrikalande.

Ramaphosa het dié verdrag van die Afrika-unie (AU) by die African Continental Free Trade Area (AfCTA) se buitengewone sakeberaad in Rwanda onderteken – dieselfde beraad waarop hy voorgestel het dat ʼn enkele homogene geldeenheid vir Afrikalande geskep moet word.

Die doel van die ooreenkoms is om handel tussen Afrikalande te bevorder, asook plaaslike vervaardiging ʼn hupstoot te gee.

Ramaphosa het vroeër tydens die beraad gesê dié ooreenkoms sal ʼn gelyke speelvlak vir Afrikalande skep om aan vrye handel deel te neem.

Die graderingsagentskap Moody’s het vroeër gesê lande soos Suid-Afrika, Kenia en Egipte sal waarskynlik meer uit die ooreenkoms baat as Afrikalande met ʼn onderontwikkelde infrastruktuur en geldtekorte.

Pres. Cyril Ramaphosa onderteken die Kigali-ooreenkoms in Rwanda (Foto: Twitter via die Presidensie)

Colin Ellis, Moody’s se direkteur vir strategie, het gesê daar is “aansienlike potensiaal” vir verdere handelsintegrasie in Afrika. “Die AfCTA kan dié integrasie stimuleer. Dit kan verder ook die onderskeie streke se kredietprofiele verbeter, gegewe die stabiliteit wat streekshandel kan bied teenoor tradisionele kommoditeitsuitvoere na die res van die wêreld,” het hy gesê.

Nigerië was een van ʼn handjievol ander lande wat nié die ooreenkoms geteken het nie. Pres. Paul Kagame van Rwanda, ook die voorsitter van die Afrika-Unie, het voorheen gesê die ooreenkoms sal egter geteken word selfs al weier Nigerië om in te stem.

Ellis het gesê kwessies soos korrupsie en ondoeltreffende doeane-dokumentasie is steeds problematies en sal aandag benodig om nie die proses of die ooreenkoms te kniehalter nie.

Die ooreenkoms met nou eers bekragtig word en sal na verwagting in Januarie 2019 in werking tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

Wat maak die saak. Hoe gaan dit SA help? Eerder ‘n las op SA. Ons gaan in basiese goed handel dryf met hulle om geld na hul ekonomie te pomp, dis al. Soos met Zimbabwe, Swaziland, Lesotho,, ens wat al reeds ‘n las is. Nou verstaan ek Cyril / ANC se een geld eenheid vir Afrika idee.

Dafer ·

Die vryehandelsproses sal na alle waarskynlik gou ontaard in monopoliee wat in elke land sal ontstaan om soveel moontlik winste uit die werkersklas te kan maak, maar dit sal aan die werkersklas die moontlike geleentheid bied om eerlik sy geld te kan verdien. Die groot voordeel sal eintlik wees dat oor ‘n geslag of twee sal die mense begin om iets soos ‘n sin vir verantwoordelikheid te ontwikkel, gegrond op inkomste potensiaal. Dit sal goed wees vir almal. Net in Suid Afrika sal dit nie gebeur nie want hulle kan nie en wil ook nie kan nie.

Hennie ·

Stupa hier vir die miesies en daar en ook daar op die volgende bladsy. Het jy jou green bar-coded ID gebring?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.