SA ondervind drastiese toename in ontvoerings

(Foto: Freepik)

Suid-Afrika het die afgelope drie jaar ʼn drastiese styging in ontvoerings ondervind, met die getal ontvoerings wat tussen 2020 en 2023 jaarliks met meer as 4 000 gevalle toegeneem het.

Volgens misdaadstatistieke wat jaarliks deur die polisie bekendgemaak word, was die getal ontvoerings in die 2022-’23-boekjaar (15 342) amper vier keer soveel as tien jaar gelede (4 306).

Kenners sê nou dié syfers kan egter veel hoër wees, aangesien nie alle sake by die polisie aangemeld word nie.

(Grafika: Elsabé Erasmus)

“Ontvoerings is tans ʼn nasionale krisis en dit is meestal geld gemotiveerd.

“Mense het regtig desperaat geword. Ontvoerings word as ʼn lae risiko-misdaad – wat heelwat geld kan inbring – gesien,” sê Bianca van Aswegen, kriminoloog en nasionale koördineerder van Missing Children South Africa.

Van Aswegen sê daar is verskeie faktore wat ontvoerings in Suid-Afrika laat toeneem.

“Ons het opgemerk dat die Covid-19-inperkingstydperk – en die nasionale ekonomiese krisis wat dit meegebring het – ʼn groot toename in ontvoerings in die land tot gevolg gehad het.

Sy sê sosiale media het ook grootliks hiertoe bygedra.

“Al meer mense – en veral kinders – is deesdae op een of ander sosiale media platform. Verskeie vals advertensies van werksgeleenthede word op hierdie platforms versprei en desperate mense val hiervoor, wat hulle kwesbaar maak om ontvoer te word.”

Ian Cameron, teen-misdaadaktivis en lid van die DA, sê dit is belangrik om in ag te neem dat motorkapings deel van die ontvoeringstatistieke vorm.

“ʼn Vergelyking moet getref word met ontvoerings wat met motorkapings gepaard gegaan. Meeste van die tyd word ʼn kapingslagoffer iewers tussen niks en nêrens afgelaai of selfs vermoor – wanneer die saak dan later aangemeld word, word dit ook as ʼn ontvoeringsaak aangemeld.”

Massiewe toename in Gauteng

Die meeste van die ontvoerings wat in die 2022-’23-boekjaar aangemeld is, het in Gauteng plaasgevind (7 822). Dié provinsie het ʼn skrikwekkende toename van 74% in ontvoerings sedert die vorige boekjaar aangemeld, die meeste van al die provinsies. KwaZulu-Natal het die tweede meeste ontvoerings (3 089) aangeteken en Mpumalanga die derde meeste (979).

Werner Weber, provinsiale leier van die VF Plus in Mpumalanga, sê ontvoerings bly ʼn ernstige kwessie in dié provinsie.

“Navorsing het bevind dat die toename in ontvoerings verband hou met die aansienlike toename van gewelddadige en georganiseerde misdaad.

“Om hierdie soort ontvoerings te verminder, moet Mpumalanga se polisie georganiseerde misdaad takel.”

Hy sê intelligensiegedrewe polisiëring gerugsteun deur toegewyde ondersoekeenhede wat toegang het tot moderne forensiese hulpbronne, kan die stygende vlakke van dié misdade bekamp.

Die Wes-Kaap is die enigste provinsie wat ʼn daling (7,4%) in ontvoerings aangeteken het. Altesaam 952 ontvoerings is hier in 2022-’23 aangemeld.

Cameron sê die rol wat die metro-polisie en provinsiale eenhede in die Wes-Kaap speel om wet en orde te handhaaf, kan moontlik die rede wees dat ontvoeringsake in die Wes-Kaap afgeneem het.

“Dit is egter nie ʼn direkte beheerbare misdryf nie, daarom dink ek die statistieke weerspieël nie noodwendig die ware prentjie nie. Veral omdat georganiseerde misdaad toenemend prominent in die Wes-Kaap is.”

Hy sê die Kaapse Vlakte is een van talle voorbeelde waar ontvoerings veral die hoogte inskiet.

Van Aswegen meen wel die Wes-Kaapse polisie is meer in beheer van misdaad as in die res van die land. “Dié provinsie het ekstra LEAP-offisiere wat aangestel is en die metro-polisie in die Wes-Kaap is baie bekwaam.”

Sy het egter ook benadruk dat ontvoeringstatistieke nie ʼn direkte aanduiding is van wat werklik aan die gang is nie.

“Baie mense meld nie eens ontvoerings aan nie omdat hulle te bang is om polisie toe te gaan. Families wat gedreig word deur ontvoerders, sal baie keer eerder self die losprys betaal om hul kind of familielid terug te kry as om die polisie betrokke te kry.”

Hiér word die meeste ontvoerings aangemeld

Wat die polisiestasies met die meeste ontvoerings betref, is 25 uit die 30 stasies in Gauteng geleë, met die heel meeste ontvoerings by Vosloorus en dan Johannesburg-Sentraal aangemeld. Delmas in Mpumalanga is die polisiestasie met die derde meeste ontvoerings. Umlazi en Inanda in KwaZulu-Natal het onderskeidelik die vyfde en sesde meeste ontvoerings aangeteken. Die aantal ontvoerings by van hierdie stasies het in ʼn jaar se tyd met meer as 200% toegeneem. Germiston in Gauteng het ʼn toename van 480% waargeneem, van 20 gevalle tot 116 verlede jaar.

(Grafika: Elsabé Erasmus)

Weber sê die inwoners van Mpumalanga kan nie kwalik geneem word indien hulle al hoe meer vertroue in ʼn polisiediens verloor “wat deur onbevoegde persone bestuur word nie”.

Van Aswegen sê egter daar kan nie herhalend vingers na die polisie en misdaadbekampingsorganisasies gewys word nie.

“Ja, daar is sake waar die polisie doodeenvoudig nie hulle werk ordentlik doen nie, maar die polisie is toegegooi met werk. Ons het spesiale eenhede wat met ontvoerings werk, maar hulle is maar net ʼn handjievol wat al hierdie sake moet hanteer.

“Ons moet teruggaan na die wortel van die probleem: by ons gemeenskappe en in ons huise, dit is waar veiligheid moet begin.

“Dit is regtig elkeen in die land se verantwoordelikheid om ons kinders en ons families veilig te hou deur hulle deeglik oor ontvoerings in te lig.”

“Dit kan met enigiemand gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Carl ·

Skokkende verval in wet en orde wat ons in dieselfde liga as die slegste van die wêreld plaas. Kom nou Bheki, waar is jy? Bestaan misdaadintelligensie nie meer nie? Wys on dat julle iets probeer doen, woorde en toesprake werk nie, ons soek aksie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.